‘Verlore’ vasteland onder Mauritius gevind

'n Sirkoon-kristal.  Foto: Wits.

‘n Sirkoon-kristal. Foto: Wits.

Wetenskaplikes het die bestaan van ʼn “verlore” vasteland onder Mauritius, die eiland in die Indiese Oseaan, bevestig.

Dié deeltjie van ʼn vasteland het glo van die supervasteland Gondwana weggebreek sowat 200 miljoen jaar gelede.

Dié stuk kors lê onder miljoene jare se vulkaniese aktiwiteit en lawa verberg. Die kors is glo ʼn deel van Madagaskar wat weggebreek het toe Afrika, Indië, Australië en Antarktika opgebreek en die Indiese Oseaan gevorm het.

Prof. Lewis Ashwal, ʼn geoloog aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), het gesê hulle is besig om die “opbreekproses” te bestudeer om sodoende die geologiese geskiedenis van die vasteland beter te verstaan.

Ashwal, Michael Wiedenbeck van die Duitse sentrum vir geowetenskap, en Trond Torsvik van die Universiteit van Oslo het die mineraal sirkoon op Mauritius ondersoek. Dit is toe dat hulle besef het dat die oorblyfsels van hierdie element hopeloos te oud is om van Mauritius self afkomstig te wees.

Ashwal verduidelik dat die aarde uit twee dele bestaan, vastelande wat “oud” is en oseane wat “jonk” is. “Op vastelande vind ʼn mens rots wat tot vier miljard jaar oud is. ʼn Mens kry nie sulke goed in oseane nie – hier vorm nuwe rots,” sê Ashwal.

Professor Lewis Ashwal. Foto: Wits.

Professor Lewis Ashwal. Foto: Wits.

“Mauritius is ʼn eiland en daar is geen rots ouer as nege miljoen jaar oud op die eiland nie. Toe ons egter die rots op die eiland bestudeer het ons sirkone ontdek wat ouer as drie miljard jaar is”. Sirkone is minerale wat hoofsaaklik in die granietlae van vastelande voorkom.

Dit bevat spore van uraan, torium en lood en omdat hulle geologiese prosesse baie goed kan weerstaan is dit moontlik om baie akkurate daterings daarop te doen. “Die feit dat ons sirkone van hierdie ouderdom hier opgespoor het bewys dat daar veel ouer korsmateriaal onder Mauritius lê wat sy oorsprong net in ʼn vasteland kon hê,” het Ashwal gesê.

Ashwal vermoed daar is verskeie dele van verskillende groottes van hierdie “verlore” vasteland genaamd Mauritia wat versprei lê in die Indiese Oseaan.

Dit is egter nie die eerste keer dat sirkone wat miljoene jaar oud is op Mauritius gevind word nie. Navorsing in 2013 het al getoon dat daar sulke ou stowwe op die eiland is, maar dit is afgemaak as onbeduidend en gesê dat dié stowwe deur die wind daarheen kon waai of deur die voertuigbande of skoensole van wetenskaplikes daar aangeland het.

Ashwal sê dat hul ontdekking derhalwe hierdie ontdekking van 2013 bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Piet ·

Wil n klip in die bos gooi.Hoe strook die berig nou met die skeppingsverhaal in Genesis?Dis mos nou heeltemal teenstrydig.Wonder maar net…

Grassie ·

Piet – nee, dit is nie teenstrydig nie. Die aarde was van die begin van die bestaan van die heelal reeds daar, volgens Gen 1:1 . Volgens vers 2 was dit egter woes en leeg en donker en oorstroom. Die Skepper het dit bekyk – “Die Gees van God het gesweef op die waters”- en toe het Hy besluit om dit geskik te maak vir lewe en ‘n mooi plek te skep. Daarna volg die skeppingsverhaal soos dit uiteengesit is vanaf vers 3. Die planeet Aarde bestaan dus al biljoene jare, maar lewe op die aarde, soos ons dit ken, nog net ‘n klompie duisende jare. Daar was beslis ook voorheen, miljoene jare gelede, lewe op die Aarde, soos argeologiese opgrawings bewys, maar dit was net diere. Hierdie keer het die Skepper egter die intelligente mens geskape, na Sy beeld, en ek dink tot Sy spyt.
Dit is ‘n te lang storie om hier te bespreek. Ek wens Herman Toerien wil daaroor skryf.

Herrie ·

Die Bybel sê ook dat een dag is vir die Here soos ‘n duisend jaar en ‘n duisend jaar soos een dag. Miljoene en miljoene jare of millisekondes, vir Hom is niks onmoontlik ne!!

De Villiers ·

Dis so interessant. Ek wonder of die glasklippies wat soos ‘n diamant lyk en sirkonies genoem word, van hierdie mineraal afkomstig is?

Trots Afrikaans ·

Piet,
Die antwoord is eenvoudig. Die wat die Bybel glo, glo dat die aarde tussen 6 en 7 duisend jaar oud is. Die res is in drie gedeel naamlik:
1. Die wat nie die Bybel glo nie en dit afskryf as ‘n interesante boek vol stories,
2. Die wat die Bybel probeer verbuig om dit aan te pas by wat die wêreld glo.
3. Die wat geen idee het wat hulle glo nie.

So gaan die volk onder weens ‘n gebrek aan kennis van die Woord.

Ek glo onvoorwaardelik in God en beskou dus die Bybel as volkome korrek.

ertjie ·

En waar se die Bybel dat die aarde 6 tot 7 duisend jaar oud is? Die verbuiging van die Woord gaan beide kante toe, jou opinie daarvan bly nogsteeds net n menslike interpretasie.

brenda ·

Kon raai iemand sal weer die Bybel hier inbring; dankie vir die berig; dis so interresant!!

Trots Afrikaans ·

Brenda, hmmm, dit is ‘n Christelike webwerf so ek neem aan jy gaan af en toe van die Bybel lees….of altans ek hoop so.

Gerhard ·

Trots Afrikaans, hierdie is nie n’ Christelike webwerf nie, dit is n’ nuus webwerf.

Jack Russl ·

Stem saam met jou Gerhard, maar al is dit ‘n nuus webwerf is dit gegrond op Christelike waardes

Nico K ·

Baie interessante artikel. En terloops ek sit elke Sondag in die Kerk. 2 keer. Maar dit beteken nie ek glo nie aan wetenskap nie. Dit is ouens soos julle wat Copernicus en Galileo Gallilei uit die Kerk gegooi. En vandag weet ons hulle is reg. Moet tog nie dieselfde foute maak nie.

Tokkie Swarts ·

Trots Afrikaans. Hoe waar is jou woorde. Net jammer Brenda moet nog die Bybel ondek, ek glo dat sy dan sal besef dat daar ‘n groter Mag is wat die bestaan van die wêreld geskep en onderhou. Tokkie

Wanda ·

Piet, jy is heeltemal reg. Wonderlik om te sien jy glo net soos ek en vele ander 100% wat die bybel sê. Waaroor hulle altyd wil karring met miljoene jare gelede….weet ek nie, wat ek wel weet en wil weet gaan soek ek in my bybel.

Koos1 ·

Ek glo ook volkome in die Bybel. Van die Bybel weet ons die mens is sowat 6000 tot 7000 jaar op die aarde. Wat voor dit gebeur het weet ons nie. Ek glo vas dat die dae soos beskryf in Genesis verwys na tydperke en nie dae van 24 uur soos ons dit vandag het nie.
Soos ek dit glo kan wetenskap ook sin maak, sonder om die Bybel in twyfel te trek.
Skuus, nou kan Trots Afikaans maar vir my sê ek verbuig die Bybel om my te pas, maar dis die enigste manier hoe die Bybel en wetenskap (wat ook tot deur God aan ons gegee is), in my kop kan sin maak.

Mike ·

Jy is heeltemal reg…d dae dui op tydperke. God drie-enig het alles geskape deur Sy Woord en Sy Gees het op d water gesweef

Kalmeer net ·

Die berig betwis nie God se bestaan of sy skepping nie. Dis bloot ‘n berig oor iets wat ontdek is. Dis al. Finish en klaar.
Vir God is een dag soos 1000 jr en andersom. Geen mens weet oor hoeveel miljoene jare die “7-dag” skeppingsverhaal gestrek het nie.
As jy nie iets positief het om te sê noe hou dan jou mond.
Deur so ‘n artikel soos ‘n klomp fariseers te analiseer wys eerder hoe eng julle gedagtewêreld is. Dis nie ‘n Bybelkompetisie nie. Hou asb by die onderwerp of bly stil.

Sulet ·

Ek het nog altyd gewonder hoe kry hulle dit reg: hulle kyk na ‘n stukkie rots en sê dan dis soveel miljoen jaar oud. Hoe weet hulle dit? Wat my betref is dit net ‘n klomp syfers wat hulle opmaak.

Herman Toerien ·

Hallo Sulet. Daar is meer as twintig verskillende metodes om die ouderdom van rotse te bepaal. Gewoonlik gebruik wetenskaplikes drie verskillende metodes, en eers as die drie ooreenstem, word dit as korrek aanvaar. Daar is ontsettend baie inligting hieroor op die internet.

Snel ·

Een dag is vir die Here soos n duisend jaar en anders om, maar plante is op die derde dag geskape en plante het sonlig nodig om te groei en dag vier is son, maan en sterre geskape, so dan is alles in ses dae gemaak, die plante kon tog nie n ewigheid gewag het vir die son nie. Hoe sal ons nie weet of alles met die vloed verander, saamgepers en verander is om lae te vorm wat nou volgens wetenskaplikes die bewyse is van dat die aarde miljoene jare is nie. God hou alles in stand, so goed kan nog steeds vorm en ontwikkel.

Johann ·

Ek wens mense wat Die Bybel as letterlik lees wil verstaan dat Die Bybel deur mense geskryf is. Dit is vol wyshede wat in aggeneem moet word, maar ook vol teenstrydighede. Enigeen wat dit al gelees het weet dit. Daar is egter ook die wetenskappe wat die aardse dinge probeer verklaar. Ek het nognooit iets in die wetenskap teegekom wat nie die wonder van alles om ons nog meer wondelik maak nie. Ek sal mense aanraai om te lees en te lees en wydt te lees. Dit is jou Goddelike plig as intelligente wesens. Baie interessante bevindinge.

Asjas ·

Ek is net jammer my voor vaders was op die gedeelte wat uiteindelik bestem was om Afrika te word…

Daan ·

Geseënd is die wat kan glo soos Trots Afrikaans. Alhoewel, Piet en Nico K slaan die spyker op die kop. Indien daar iemand is wat vrae het, lees gerus: Ek glo die Bybel deur Adrio König.

Daan ·

Jammer, ek bedoel Grassie en Niko K slaan die spyker op die kop.

BS ·

My ore wapper. Sjoe die slimmense wat nie so slim is nie? 1000 jaar is gelyk aan 1 dag en anders om nie biljoene jare nie. Ek glo maar die Woord want, my God lieg nie.

ek kan net my kop skud ·

BS en andere – onthou tog maar altyd die Bybel is deur MENSE geskryf en vertaal oor eeue, so dinge/verduidelikings ens gaan verlore. Ons het almal breine verneit gekry en sou ‘n skande wees as mens dit nie gebruik om te sien hoe wonderlik die skepping werklik is en hoe dinge inmekaar steek nie. Om nou te maak of hierdie tipe wonderlike ontdekkings “on-Bybels” is en sulke twak is plein belaglik. Mens kan dan ook sê die wiel was nie in die Bybel genoem nie so dis ook nie “Christelik” nie! Mens kan ook sê vliegtuie was nie in die Bybel genoem nie…jip, so kan ek aangaan! AI TOG!Fantastiese interessante berig, baie dankie Herman!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.