Vermeende Spanje-terroris geskiet

Younes Abouyaaqoub (22), die Marokkaan wat vermoedelik die paneelwa bestuur het wat in Barcelona deur ‘n skare geploeg en 13 mense se lewens geëis het (Foto: Spaanse ministerie van binnelandse sake via AP)

Die polisie buite Barcelona het ʼn man met ʼn springstofbaadjie geskiet, het die streekspolisie Maandag gesê, terwyl pogings verskerp het om die voortvlugtige aan te keer wat betrokke was in ʼn terreuraanval.

Die man is in Subirats, ʼn klein dorpie 45 km wes van Barcelona, geskiet toe die polisie ondersoek ingestel het oor ʼn “verdagte persoon”. ʼn Bomontlontingsrobot is ontbied om die verdagte te nader, het die Katalaanse polisie gesê.

La Vanguardia-koerant het berig die man wat geskiet is, is Younes Abouyaaqoub (22), wat al sedert Donderdag voortvlugtig is ná ʼn paneelwa verlede Donderdag deur ʼn skare in Barcelona gery het. Altesaam 13 voetgangers is op die bekende Las Ramblas-promenade dood en meer as 120 persone beseer. Owerhede het vroeër Maandag gesê hulle het nou bewyse dat Abouyaaqoub die paneelwa bestuur het.

Abouyaaqoub is in Marokko gebore en het Spaanse burgerskap. Hy het vermoedelik ook ʼn motoris, Pau Perez, gekaap en hom met ʼn mes doodgesteek toe hy gevlug het. Dit bring die dodetal tussen die Barcelona-terreuraanval en die soortgelyke aanval ure later in Cambrils, op 15 te staan. Die laaste amptelike dodetal was 14: 13 persone is Donderdag dood toe die paneelwa deur ʼn skare in Las Ramblas gejaag het en ʼn vrou is ure later tydens die soortgelyke voorval in Cambrils oorlede.

Katalaanse owerhede het Maandag bevestig Abouyaaqoub was die enigste van 12 Islamitiese ekstremiste wat nog voortvlugtig was.

ʼn Beampte in Spanje het gesê owerhede het intussen al 15 slagoffers geïdentifiseer wat dood is tydens die terreuraanvalle. Carles Mundo, minister van justisie in Katalonië, het gesê agt mans, insluitend twee seuns, en sewe vroue is dood. Ses Spanjaarde, drie Italianers, twee Portugese, ʼn Belg, ʼn Amerikaner, ʼn Kanadees en ʼn Brits-Australiese kind is onder die slagoffers.

Ruikers in Barcelona en op die plakkaat staan “Ons is nie bang nie” (Foto: AP Photo/Emilio Morenatti)

Inwoners lê steeds ruikers, kerse en hartvormige ballonne neer op die Las Ramblas-promenade.

Een van die slagoffers van die Barcelona-aanval is die sewejarige Julian Cadman, ʼn leerling aan ʼn skool in Sydney, Australië. Julian, wat Australiese en Britse burgerskap het, het Barcelona saam met sy ma besoek toe hy gesterf het. Sy ma is beseer en sterk aan in die hospitaal.

Intussen is minstens een persoon dood en een ander beseer nadat ʼn paneelwa Maandagoggend in twee bushaltes in Marseille in Frankryk ingeploeg het. Lees meer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eish ·

So tragies dat die onskuldige mense moet sterf vanweë politici se liberale besluite.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.