Vermiste bergklimmers ‘heel moontlik dood’

Die K2-berg in Pakistan (Foto: Vincent Romain via Unsplash)

Amptenare is oortuig dat die drie bergklimmers wat byna twee weke gelede op K2 in Pakistan, naas die berg Everest die hoogste piek ter wêreld, vermis geraak het, moontlik dood is.

Maroela Media het vroeër berig John Snorri van Ysland, Juan Pablo Mohr van Chili en Muhammad Ali Sadpara van Pakistan het op 5 Februarie kontak met die basiskamp verloor. ʼn Reusesoektog na dié bergklimmers het gevolg. Die soektog is egter verlede Dinsdag gestaak weens gure weerstoestande.

Raja Nasir Ali Khan, minister van toerisme in Gilgit-Baltistan, Pakistan, sê al die weerkenners, bergklimmers en kundiges van die Pakistanse weermag het tot die gevolgtrekking gekom dat ʼn mens nie in sulke ongunstige weersomstandighede só lank kan oorleef nie.

“Daarom kondig ons aan dat hulle heel moontlik dood is,” het Khan gesê. “Die soektog na die liggame sal voortduur.”

Sajid Ali Sadpara, seun van Sadpara, sê sy familie het ʼn groot pa-figuur verloor en die nasie is ʼn goeie, dapper en ervare bergklimmer kwyt.

Die weerstoestande op K2 is straf – met wind wat teen ʼn spoed van meer as 200 km/h waai en die temperatuur wat tot -60 ˚C kan daal. Dié berg is minder gewild as die berg Everest, juis oor dié ongunstige weersomstandighede.

Sedert Januarie is twee klimmers reeds teen die hange van dié berg dood en ʼn derde een het vermis geraak.

Altesaam 60 klimmers het die afgelope paar maande K2 ondanks die moordende toestande aangedurf. ʼn Span Nepalese klimmers het onlangs suksesvol tot heel bo geklim.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.