Vermiste Boeing dalk gekaap

Argieffoto

Argieffoto

Die Maleisiese regering ondersoek die moontlikheid van ʼn terreurdaad nadat ʼn Boeing 777-200 van Malaysia Airlines met 227 passasiers en 12 bemanningslede aan boord op ‘n vlug van Kuala Lumpur na Beijing Saterdagoggend vermis geraak het. Die lugbeheer het omstreeks 0:24 Saterdagoggend kontak met die vliegtuig verloor.

Die Viëtnamese mariene-owerheid het kort daarna bevestig dat die vliegtuig naby die Viëtnamese eiland Tho Chu in die see gestort het nadat oliekolle in die see opgemerk is. Die moontlikheid dat die vliegtuig gekaap is en nie neergestort het nie, word egter nou ondersoek.

Hishammuddin Hussein, Maleisië se minister van vervoer, het Sondag gesê die moontlikheid dat die vermiste vliegtuig met ʼn terreurdaad verbind kan word, kan nie uitgesluit word nie.

Daar was passasiers van 14 lande aan boord, waarvan die helfte van China, en die ander van Maleisië (38), Indonesië (12), Australië (7), Frankryk (3), VS (4), Nieu-Seeland (2), Oekraïne (2), Kanada (2), Rusland (1), Italië (1), Taiwan (1), Oostenryk (1) en Nederland (1). Daar was geen Suid-Afrikaners aan boord nie.

Dit het Saterdag aan die lig gekom dat twee van die passasiers aan boord van vlug 370 met vervalste Europese paspoorte gereis het. Volgens die Maleisiese media is nóg twee passasiers as verdagtes geïdentifiseer. “Ek het al vier name,” het Hussein aan die media gesê, maar hy wou nie verder oor die ondersoek uitbrei nie. Volgens hom word al die passasiers se agtergrond nagegaan.

Azharuddin Abdul Rahman, die land se direkteur-generaal van burgerlike lugvaart, het bevestig dat owerhede kringtelevisiebeeldmateriaal nagegaan het en dat hulle glo slegs twee passasiers was met vervalste paspoorte aan boord. “Daar is slegs twee, nie vier nie,” het hy gesê. ʼn Ondersoek word gedoen om te bepaal hoe die twee verdagtes dit reggekry het om met vervalste paspoorte op die vliegtuig te kom.

Hussein het gesê Maleisië se regering werk saam met teenterreuragentskappe van Amerika, waaronder die FBI, en ander lande.

Die vliegtuigwrak is teen Sondag nog nie gevind nie en ‘n grootskaalse soektog is van stapel gestuur om die vliegtuig op te spoor. Alle skepe in die omgewing is versoek om te help soek na moontlike oorlewendes. Hussein het bevestig wat die Viëtnamese mariene-owerheid waargeneem het, maar kon nog nie bevestig of die vliegtuig wél neergestort het nie, en het gesê die vliegtuig word steeds as vermis beskou.

Nog geen terrorisme-groep het vir die beweerde daad verantwoordelikheid geneem nie. Die voorval word as die ergste vlugramp in die land se geskiedenis beskryf. – SAPA-AFP

Lees ook:
Vermiste vliegtuig het in see gestort; 239 vermis, bevestig Viëtnam
Boeing met 239 passasiers vermis

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.