Vermiste Boeing: Passasiers se selfone lui; vliegtuig steeds soek

vermiste vliegtuigOwerhede het die soekgebied verbreed nadat ʼn vliegtuig van Malaysia Airlines Saterdag verdwyn het. Familielede het intussen bevestig dat passasiers se telefone lui, maar onbeantwoord bly.

Die Boeing 777 het spoorloos verdwyn tussen Kuala Lumpur en Beijing en ʼn soektog in die water tussen Maleisië en Viëtnam het nog geen vrug gelewer nie. Meer as 40 vliegtuie en skepe van minstens 10 lande is op soek na die vliegtuig.

Die vliegtuig, met 239 mense aan boord, het minder as ʼn uur nadat dit opgestyg het, verdwyn sonder dat ʼn noodsein uitgestuur is.

Intussen het die Mirror berig dat ʼn familielid van ʼn passasier regstreeks oor die televisie sy telefoon laat lui het, maar geen antwoord kon kry nie. Selfoonnetwerke word egter moontlik blameer. “Alhoewel mens ʼn luitoon kry wanneer ʼn selfoon aangeskakel is, beteken dit nie dat die foon lui nie,” het die kenner Jeff Kagan aan NBC News gesê. “Die netwerk soek die foon. Eerstens gebaseer op waar die foon laas was en dan brei die soektog uit. Indien die netwerk nie die foon kan opspoor nie, sal die oproep uitsny.”

Owerhede het Dinsdag gesê twee passasiers wat gesteelde paspoorte gebruik het, is Iranese wat die kaartjies in Europa gekoop het. “Pouria Nourmohammadi Mehrdad (19) van Iran wou moontlik na Duitsland emigreer,” het Khalid Abu Bakar, hoof van die polisie in Maleisië, gesê. “Hy is waarskynlik nie ʼn lid van enige terroristegroep nie.”

Interpol het die tweede man as Seyed Mohammed Reza Delavar (29) van Iran uitgeken. Die twee mans het saam in die vliegtuig geklim. Volgens Ronald K. Noble, sekretaris-generaal van Interpol, het die twee mans hul Iraniese paspoorte gebruik om na Maleisië te reis. Hulle het daarna moontlik die gesteelde Oostenrykse en Italiaanse paspoorte begin gebruik.

Volgens Noble neem spekulasie af dat die verdwyning moontlik aan terrorisme gekoppel kan word. “Die twee individue [Mehrdad en Delavar] is waarskynlik nie terroriste nie,” het hy gesê. -SAPA

Lees ook:
Vermiste Boeing: “Vreemde voorwerp” opgemerk
Misterie om verdwene Maleisiese passasierstraler verdiep
Vermiste Boeing dalk gekaap
Vermiste vliegtuig het in see gestort; 239 vermis, bevestig Viëtnam
Boeing met 239 passasiers vermis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.