Vermiste duikboot steeds soek ná ‘ontploffing’

ʼn Foto van die Argentynse duikboot ARA San Juan wat op 23 November 2010 geneem is. Foto: Xinhua/TELAM/Argentinean Army/Juan Sebastian Lobos

Rusland is besig om voor te berei om een van die wêreld se grootste vragvliegtuie en ʼn mini-duikboot te stuur om na die vermiste Argentynse duikboot in die suidelike Atlantiese oseaan te soek.

Volgens die Todo Noticias-nuuskanaal is die vliegtuig ʼn Antonov An-124 Ruslan wat ʼn vrag van tot 150 ton kan dra.

Wladimir Poetin, die Russiese president, het pres. Mauricio Macri van Argentinië Woensdag gebel om die hulp van ʼn Russiese tegnologies gevorderde oseanografiese vaartuig aan te bied. Die Argentynse leier het Poetin bedank vir die hulp.

Rusland is nou die dertiende land wat by die operasie aangesluit het om na die vermiste ARA San Juan-duikboot te soek. Ander lande wat skepe of vliegtuie gestuur het om met die soektog te help, sluit in Suid-Afrika, Frankryk, Duitsland, Peru en die Verenigde Koninkryk.

Families van die 44 bemanningslede wat aan boord die ARA San Juan-duikboot is, bid buite die Mar del Plata-vlootbasis in Argentinië (21 November 2017). Foto: AP Photo/Vicente Robles

Die duikboot het meer as ʼn week gelede met 44 bemanningslede aan boord vermis geraak. Die duikboot het van ʼn roetinesending na die vlootbasis by Mar del Plata, suid van Buenos Aires, teruggekeer toe dit van die radar verdwyn het.

Die hoop om die bemanning lewend te vind kwyn al meer, aangesien die duikboot net genoeg suurstof gehad het om ongeveer ses dae te hou. Intussen het die Argentynse vloot gesê ʼn geluid wat gehoor is naby die plek waar die duikboot die laaste keer waargeneem is, stem ooreen met dié van ʼn ontploffing.

Claudio Rodriguez, wie se broer aan boord van die duikboot was, het teenoor die nuusagentskap Sputnik sy frustrasie met die soektog uitgespreek, spesifiek oor die admiraal in beheer van die Mar del Plata-vlootbasis waarheen die duikboot op pad was. “Ek het vir die admiraal gesê as hulle verantwoordelik is vir wat met my broer, ʼn nasionale held, en die ander bemanningslede gebeur het, verwag ons dat hulle hiervoor sal betaal,” het Rodriguez gesê.

Naasbestaandes van die duikboot se bemanning het in Mar del Plata saamgekom om te wag op enige nuus oor die soektog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.