Vermiste egpaar se lyke ná 70 jaar in ys gevind

‘n Foto van die toneel waar Marcelin en Francine Dumoulin se liggame ontdek is (Foto: ANA)

Twee liggame wat vermoedelik dié van ʼn Switserse egpaar is wat meer as 70 jaar gelede vermis geraak het, is onlangs in ʼn smeltende gletser in die Alpe in dié land opgespoor.

Marceline Udry-Dumoulin (79), die dogter van Marcelin en Francine Dumoulin, het aan die Switserse koerant Lausanne daily Le Matin vertel sy en haar ses boeties en sussies het sedert hul ouers in Augustus 1942 vermis geraak het nog nooit ophou soek na hulle nie.

Udry-Dumoulin het gesê die gesin het aanvanklik nie hoop verloor om hul ouers lewend op te spoor nie, maar het later net gehoop om vir hulle ʼn roudiens of begrafnis te hou.

Marcelin en Francine het glo 75 jaar gelede vermis geraak toe hulle na hul koeie in die Alpe gaan omsien het. Owerhede het sowat twee maande na die vermiste egpaar gesoek voor hulle die soektog afgelas het.

Die liggame is verlede week deur ʼn werknemer van die ski-maatskappy Glacier 3000 in die omgewing van die Les Diablerets-oord opgespoor. Die man het op ʼn rugsak, blikemmers, ʼn glasbottel, asook manlike en vroulike skoene en ʼn deel van ʼn liggaam afgekom.

Owerhede wat later die liggame opgegrawe het, sê beide mense was aangetrek in klere en skoene wat inderdaad van 70 jaar of meer gelede kon wees.

“Die liggame het naby mekaar gelê. Dit was ʼn man en vrou wat klere uit die tydperk van die Tweede Wêreldoorlog aangehad het,” het die Valais-polisie in ʼn verklaring gesê.

Udry-Dumoulin sê haar ma het selde saam met haar pa, ʼn skoenmaker, gegaan om die koeie te melk, omdat dit ʼn gevaarlike gebied is. Sy sê die gesin het nooit hoop verloor om hul ouers se liggame op te spoor nie, en sy het selfs drie keer die groot ysberge uitgeklim om na hulle te soek.

Sy het aan die Lausanne daily Le Matin gesê die kinders wil binnekort vir hul ouers ʼn begrafnis hou, maar sy wil wit na dié begrafnis dra, omdat dit hoop simboliseer.

DNS-toetse van die liggame is nog nie voltooi nie.

Bronne: CBS, BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

A ·

Sjoe – as dit werklik hulle is sal dit iets besonders wees…ek wonder wat het julle dood veroorsaak? ‘n Opvolg sal goed wees as julle verdere nuus hoor!

Vermoede ·

Die vermoede is dat hulle in die skeur van ‘n gletser geval het.
Die hoofopskrif sê 70 jaar maar behoort ook 75 te wees.

Marianne ·

AMEN, GOD HET GEGEE EN BY HET GENEEM,
Sluit hul gepaste sprokie in bittere tye af, wetend hulle was saam, het mekaar ondersteun en moed in gepraat.
Mag die kinders, Klein en afterklein kinders glo in ware liefde tot die einde.

Theresa ·

Hoop die DNA-toetse bevestig dat dit hul is – dis goed dat die familie tot berusting kan kom.

Willem Erasmus ·

Ek was al op snowboarding ekspidiesie by Les Diablerets.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.