Vermiste jong vrou dood gevind

ʼn Foto van Savanna Greywind wat deur die Fargo-polisie in North Dakota vrygestel is nadat sy vermis geraak het. Foto: Fargo Police Department via AP, File

Die liggaam van Savanna Greywind, ʼn 22-jarige vrou van North Dakota in die VSA, is gevind net meer as ʼn week nadat sy vermis geraak het.

Daily Mail berig owerhede het bevestig Greywind se liggaam is Sondag omstreeks 20:20 in die Red-rivier tussen Fargo in North Dakota en Moorhead in Minnesota gevind. Kajakvaarders het op Greywind se liggaam, wat in ʼn plastieksak toegedraai was, afgekom. Dit is nog nie duidelik hoe sy dood is nie.

Daar is internasionaal oor die verdwyning van Greywind berig. Sy was sowat agt maande swanger toe sy verdwyn het en is die middag van 19 Augustus die laaste keer lewend in een van haar bure se woonstel in Fargo gesien. Volgens Star Tribune het Greywind ʼn woonstel met haar ouers gedeel. Sy het aan hulle gesê dat sy na een van die bure se woonstel gaan om met ʼn naaldwerkprojek te help en het nooit weer teruggekeer nie.

CBS News het berig ʼn pasgebore baba is Donderdag in die woonstel gevind waar Greywind die laaste keer lewend gesien is. Daar word vermoed dat die pasgebore baba Greywind se kind is, maar owerhede wag steeds op DNS-toetse om dit te bevestig. ʼn Polisiewoordvoerder het aan verslaggewers gesê verskeie moontlikhede word ondersoek, waaronder of Greywind se baba uit haar baarmoeder verwyder is of dat die kraamproses geïnduseer is.

Daily Mail berig William Henry Hoehn (32) en Brooke Lynn Crews (38) is verlede week in verband met Greywind se verdwyning in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Magda ·

Tragies – haar lewe het nog voorgelê. Erge hartseer vir haar familie.

??? ·

En hierdie maak nuus in Suid Afrika presies hoekom???? Watse verwantskap is daar??? Plaas berig julle meer oor goed wat verwantskap het met ons eie land…

Andries ·

Want dis internasionale nuus. Daar is tans ook tropiese storm (eks-orkaan) Harvey, wat Houston (Texas) teister, maar dalk is dit ook nie relevant tot u nie.

Theresa ·

Bitter tragies. Hoop daar kom antwoorde op al die vrae waarmee familie worstel.

bisaar ·

Werklik bisaar – arme vroutjie, eintlik nog jong dametjie.

TG ·

Klink of die paartjie graag ñ baba wou hê en plan gemaak het. Hoop om te hoor wat met haar gebeur het

Randie ·

Dis verskriklik. MM berig asb. weer sodra meer inligting na vore kom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.