Vermiste meisie onder ouers se trap gevind

Paislee Shultis ten tye van haar verdwyning. (Foto: VSA Polisie)

ʼn Jong meisie wat in 2019 vermis geraak het, is lewend in ʼn geheime kamer onder ʼn stel trappe in ʼn huis in die Amerikaanse deelstaat New York gevind.

Paislee Shultis is nou al ses jaar oud en is Maandag tydens ʼn polisiesoektog in ʼn huis in Saugerties, ʼn dorp sowat 180 km noord van die stad New York, gevind.

“Sy is gesond en is reeds met haar wettige voog en ouer suster herenig,” het plaaslike polisie aan BBC gesê.

Paislee het in Julie 2019 as vierjarige in ʼn dorp naby aan Saugerties vermis geraak. Beamptes het destyds vermoed dat sy deur haar biologiese ouers, Kimberley Cooper (33) en Kirk Shultis jr. (32), ontvoer is, berig CNN. Die ouerpaar het in 2019 voogdyskap oor hul twee dogters verloor.

Volgens BBC het polisielede ʼn wenk ontvang dat Paislee in die huis in Saugerties aangehou word en het hulle ʼn hofbevel bekom om die eiendom te deursoek. Polisie het reeds verskeie kere die afgelope jare by dié adres aangeklop, maar nooit toestemming gehad om die plek te deursoek nie.

Shultis se pa, Kirk Shultis sr. (57), wat die huis besit, was tuis toe die polisie daar opgedaag het, maar het volgens die polisie geen idee gehad waar Paislee was nie.

“ʼn Rukkie nadat die soektog begin het, het die polisie agtergekom dat die trappe wat na die kelder lei, snaaks aanmekaargesit is. Nadat verskeie planke van die trappe verwyder is, is Paislee en Cooper aangetref waar hulle in ʼn klein, koue, nat ruimte weggekruip het,” het die polisie gesê.

Volgens CNN is sy gesond, maar het nie die afgelope paar jaar skoolgegaan nie.

Cooper en Shultis jr. sowel as Shultis se pa is in hegtenis geneem en aangekla van Paislee se verdwyning. Pa en seun is reeds op borgtog vrygelaat, maar Cooper bly agter tralies aangesien sy reeds ʼn uitstaande lasbrief vir haar inhegtenisneming het.

Volgens die nasionale sentrum vir vermiste en uitgebuite kinders in die VSA word die meeste vermiste kinders vinnig weer teruggevind. In gevalle waar familielede betrokke is by die verdwyning kan kinders egter dikwels vir meer as tien maande vermis bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Peach ·

Ai ou Porseleintjie, of dit nou “ouerliefde” is en, of dit nou nie “ouerliefde” is nie, die sal ons nou nie weet maar, wat ons wel weet, is dat die dogtertjie veilig en gesond gevind is.

Sandra ·

Vir ‘n land wat so streng is soos Amerika, is ek verbaas dat die polisie verskeie kere gaan aanklop het waar die meisie was, sonder ‘n lasbrief, en elke keer weggewys was. Hulle kan net bly wees dat die kind lewend gevind was.

Peach ·

Ai Sandra, of Amerika nou streng is en, of Amerika nou nie streng is nie, die sal ons nou nie weet maar, wat ons wel weet, is dat die standaard van polisieëring daar 100% beter is as ons eie SAPD s’n.

FM ·

Daardie dogtertjie is gebore met die reg om liefdevol vertroetel te word.
Emosioneel ontwikkel te word.
Sy moes speel en maatjies hê.
Wat aan haar deur haar ouers gedoen is, is onmenslik wreed.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.