Michael Kemp, ʼn Suid-Afrikaner wat vir Air Mauritius vlieg en sedert 23 Desember vermis was, is in ʼn hospitaal opgespoor.
Sharon Pöhl, Kemp se suster, het ʼn versoek op Facebook gerig en gesê haar broer is die laaste keer by die Hard Rock Cafe in Kuala Lumpur in Maleisië gesien. Hy het glo nadat die vlug daar geland het by ʼn hotel ingeteken maar nie vir die terugvlug aangemeld nie.
Kemp is Woensdagoggend in die waakeenheid van ʼn hospitaal in Kuala Lumpur opgespoor, berig lexpress.mu. Hy is glo in ʼn kritieke toestand en het verskeie beserings opgedoen. Volgens berigte is hy na bewering erg aangerand.
Pöhl het op Facebook bevestig haar broer is gevind. “Dankie vir almal se gebede en die vriendelike daad van die verpleegster wat ons met inligting gekontak het. Engele is oral.”
Volgens lexpress.mu se berig is ʼn beampte van Air Mauritius in Kuala Lumpur om Kemp by te staan. Kemp kan volgens berigte nie kommunikeer nie.
Daar is in dié stadium geen aanduiding hoe Kemp in die hospitaal beland het en wanneer hy na Mauritius sal terugkeer nie.
Verontrustend om van hierdie aanrandings te hoor. Wat het van die rammetjie-uitnek-bloubulletjie geword wat óók ‘n man tot in die waakeenheid geslaan het?
Seker maar dieselfde as wat met die Ackermans gebeur het?
Ek het die voorreg gehad om baie saam met Michael te vlieg in Margate. Sterkte aan hom en sy familie.