Vermiste skiër dood gevind

Hilaree Nelson (Foto:
National Geographic Societ, Twitter)

Die liggaam van ’n bekende Amerikaanse ski-bergklimmer wat vandeesweek vermis geraak het nadat sy van berg Manaslu in Nepal afgeval het, is Woensdag gevind.

Berg Manaslu is die wêreld se agtste hoogste berg.

CBS News berig Hilaree Nelson (49) het Maandag saam met haar lewensmaat, Jim Morrison, van ’n hoogte van 8 163 meter van die berg afgeski toe sy van die berg afgeval het.

Haar liggaam is per helikopter na ’n hospitaal in Katmandu, die hoofstad van Nepal, gevlieg waar dokters na verwagting ʼn nadoodse ondersoek sal uitvoer.

Gure weersomstandighede het reddingswerkers se soektog Maandag en Dinsdag belemmer, waarna hulle haar toe Woensdag gevind het.

CNN berig Jiban Ghimire, besturende direkteur van Shangri-La Nepal Trek, het gesê sy bemanning het Maandag ’n oproep ontvang wat sê Nelson het geval en is nêrens te sien nie.

“Ek het ’n oproep van ons personeel by die basiskamp gekry dat haar ski-lem afgegly het en dat sy  van die ander kant van die piek afgeval het,” het Ghimire gesê.

Nelson het die afgelope twee dekades naam gemaak as ski-bergklimmer. Sy was ’n pionier in die bergklimgemeenskap en ’n rolmodel vir die nuwe generasie klimmers.

Sy het al aan meer as 40 ekspedisies reg oor die wêreld deelgeneem en is in 2018 as kaptein van The North Face Athlete Team aangewys.

In 2012 het sy die eerste vrou geword om die wêreld se hoogste piek, Everest, en ook die aangrensende berg, Lhotse, in 24 uur te klim.

Sy het voortgegaan om die wêreld se berge te verken, dikwels saam met Morrison, en die grense verskuif van wat in die sport verwag word.

Nelson is die ma van twee kinders. Haar maat, Jim Morrison, is volgens The North Face ook ’n ervare ski-bergklimmer. Sy het saam met Morrison geski en die Nepalese berg verken toe sy as vermis aangemeld is.

Intussen het ʼn Nepalese man Maandag tydens ʼn sneeustoring op dieselfde berg omgekom.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.