Vermiste sokkerspan veilig gevind

Reddingswerkers besig met die reddingsoperasie in die Tham Luang Nang Non-grot in Thailand (30 Junie 2018). Foto: Xinhua

Al 12 seuns en hul sokkerafrigter is veilig gevind, nege dae ná hulle in grotte in Thailand verdwyn het.

Narongsak Osottanakorn, die streek se goewerneur, het bevestig almal is veilig gevind. Dit volg ná ʼn omvattende soektog in die Tham Luang-grotte in Chiang Rai. Die vloot se spesiale magte het op hulle afgekom, het hy verduidelik.

Die seuns en hul afrigter moet nou na veiligheid gebring word, maar stygende watervlakke en modderstortings bemoeilik die reddingspoging.

Die BBC het gesê reddingsbeamptes het gehoop die groep sou op ʼn rotslysie in ʼn ondergrondse kamer kon klim, maar hulle is 400 meter verder gevind toe hulle na hoër grond, “Pattaya-strand”, probeer beweeg het om die stygende watervlakke te vermy.

Dit kan tot vier ure duur om te bepaal of hulle geskuif kan word.

Maroela Media het vroeër berig die reddingspan het Sondagaand bevestig dat hulle ʼn draai in ʼn nou paadjie van ongeveer 800 m in die grot bereik het waar die paadjie in twee verdeel. Dié plek is ongeveer 2 km van die droë ruimte binne die grot.

Die duikers kon voorheen nie verder as dié punt beweeg nie, omdat hulle kort-kort uit die grot moes onttrek weens stygende watervlakke. Dié plek is die verste wat hulle nog in die grot kon inbeweeg.

Die duikers moes van ekstra suurstofvoorraad gebruik maak sodat hulle langer in die grot kon bly.

Die Tham Luang Nang Non-grot is geleë in die Chiang Rai-provinsie. Die 12 seuns, tussen 11 en 16 jaar oud, en hul 25-jarige sokkerafrigter is in die grot vasgekeer nadat hulle die grot op 23 Junie binnegegaan en daarna deur vloedwater vasgekeer is. Die grot is bekend daarvoor dat dit tydens die reënseisoen erg oorspoel. ʼn Kennisgewing by die ingang na die grot, wat ʼn gewilde toeriste-aantreklikheid is, waarsku dat dit gevaarlik is om die grot binne te gaan gedurende die reënseisoen.

Die sokkerspan en hul afrigter, wat van die stad Chiang Rai in die Chiang Rai-provinsie afkomstig is, het klaarblyklik dié waarskuwing geïgnoreer en in die grot ingekruip. ʼn Parkbeampte het onraad vermoed toe hy ʼn klomp fietse opgemerk het wat by die ingang na die grot staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Troepie ·

Goeie nuus!!
Net een vraag: ‘Spesiale magte’? Het ons so-iets?

Rentia ·

Goeie nuus dankie. Is die Noorweegse meisie wat in Suid Afrika vermis geraak het toe ooit gevind? Marie. Dink ook baie aan haar.

SNEL ·

Dankie Maroela, dat julle ons op hoogte gehou het. Baie bly hulle is almal veilig.

JM ·

Henry, jy lewe seker in die verlede want ek dink ons spes magte is so +- 24jaar gelede nog goed maar nou weet ek nie meer daar is so iets nie

Basjan ·

JM, die spes magte bestaan beslis nog, maar in ‘n ander gedaante. Staatskaping spesialiste, geldwassery spesialiste, staatskoffer plundering spesialiste, ens, ens.

Asjas ·

Baie goeie nuus. So dankbaar die kinders en hul afrigter is veilig.

madels ·

O ek loof die Here dat hulle gevind is.. Mag alles goed gaan om uit die grot uit te kom en dat daar geen beserings sal wees nie, asb Here.. dankie dankie dankie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.