Vermiste vrou kaal in rioolpyp in VSA gevind

Die vrou word vanuit die rioolpyp gebring. (Foto: Delray Beach Fire Rescue)

’n Vrou was drie weke lank vermis voordat sy kaal in ’n rioolpyp in die Amerikaanse deelstaat Florida gevind is. Die vrou het intussen ’n vreemde storie aan polisiebeamptes vertel oor hoe sy in die rioolpyp beland en weke lank daar onder oorleef het.

Polisiebeamptes probeer sedertdien uitpluis of die vrou se weergawe werklik die waarheid is. Die plaaslike polisie se rekords dui daarop dat sy ’n geskiedenis van geestesversteuring en dwelmmisbruik het.

The Guardian berig ’n motoris het verlede Dinsdag die vrou hoor skree nadat sy verby die rioolpyp in Delray Beach in die suide van Florida gery het.

Die motoris se motorvenster was oop en sy het gille vanuit die rioolpyp gehoor. Die motoris het die owerhede na die toneel ontbied nadat sy van die pad af getrek, by die pyp ingekyk en ’n kaal pleitende vrou sowat twee meter onder in die drein opgemerk het.

Volgens The Washington Post het die vrou se kêrel haar byna drie weke vantevore by die sheriff se amptenare in Palm Beach County as vermis aangemeld nadat hy ná werk teruggekeer het huis toe en haar nie kon opspoor nie. Haar selfoon en beursie is op die kombuistoonbank en -stoel gevind.

Die vrou is laas voor haar verdwyning in ’n geel sweetpaktop en ’n grys broek gesien. Sy is egter kaal, vuil en met blare bedek in die rioolpyp gevind.

Dié bisarre ontdekking het ’n reddingspoging met toeskouers tot gevolg gehad. Toeskouers het gejuig toe reddingswerkers die vrou met behulp van ’n leer en ’n harnas na die oppervlak gebring het, berig The Washington Post.

Reddingswerkers het lakens om die rioolpyp gehou om die vrou die nodige privaatheid te bied toe sy vanuit die pyp gebring is.

Die vrou word vanuit die rioolpyp gebring. (Foto: Delray Beach Fire Rescue)

Die vrou het skraapmerke aan haar knieë en ander geringe beserings opgedoen, het Dani Moschella, woordvoerder van die brandweer in Delray Beach, aan verslaggewers gesê.

Volgens Moschella het die rioolpyp ’n baie klein opening wat beteken dat dit onwaarskynlik is dat die vrou só toegang tot die pyp verkry het.

Volgens die polisieverslag het die vrou ’n vreemde verhaal aan polisiebeamptes vertel van hoe sy daar gekom het. Volgens die vrou het sy op 3 Maart in ’n kanaal naby haar kêrel se huis gaan swem. Sy het glo ’n deur opgemerk wat na ’n tonnel lei. Die vrou was nuuskierig oor waarheen die tonnel lei en het daarin geklim voordat sy ander tonnels gevolg het.

Sy het later besef dat sy verdwaal het.

Die vrou het weke lank in die rioolstelsel rondgeloop, het sy aan die polisie gesê, voordat sy ’n lig en mense wat bo haar verbyloop, opgemerk het. Sy het toe besluit om op daardie plek te gaan sit en om hulp te wag.

Ted White, woordvoerder van die Delray-polisie, sê die vrou is byna vyf kilometer van waar sy beweer dat sy die eerste tonnel binnegegaan het, gevind.

Sy het aan polisiebeamptes gesê dat sy oorleef het danksy ’n botteltjie koeldrank wat sy gevind het.

“Ons dink nie dat daar ’n misdaad gepleeg is nie,” het White verduidelik. “Maar die grootste vraag is of haar storie geloofwaardig is. Was sy werklik die hele tyd daar onder?”

Volgens gesondheidsbeamptes was die vrou waarskynlik twee of drie dae in die rioolstelsel.

Moschella sê die owerhede sal dalk nooit die volle prentjie hê oor wat met die vrou gebeur het nie. “’n Deel hiervan sal moontlik net ’n raaisel bly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Fae Fubar ·

Reality is stranger than fiction. Maroela Media, ons wag in spanning vir ‘n opvolg in hierdie ongeloofbare storie. Hoop die ware verhaal sal uitkom.

Nozi ·

Nou wonder ek hoekom het sy dan van haar klere ontslae geraak terwyl sy so in die tonnels rond gedwaal het. Hoop MM hou ons op hoogte van hierdie bizare storie. Dit kan nogal interesant raak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.