Vermiste vrou se oorskot halfeeu ná verdwyning gevind

vermiste vrou

Louise Pietrewicz links. (Foto: Change.org)

DNS-toetse het bewys die geraamte van ʼn vrou, wat twee weke gelede onder ʼn huis in Long Island in die VSA gevind is, is die oorskot van ʼn vrou wat al die afgelope 51 jaar vermis is.

Die beendere is onder ʼn huis gevind wat aan die vrou se voormalige kêrel behoort het.

The Daily Mail berig dat Louise Pietrewicz, van die klein dorpie Southold op Long Island, op 6 Oktober 1966 skielik verdwyn het nadat sy haar man verlaat het. Dié was glo gewelddadig en het Pietrewicz aangerand.

Ondersoekbeamptes het die beendere in ʼn streepsak sowat twee meter onder die kelder van die 17de eeuse huis gevind.

DNS van die vermiste 38-jarige vrou se broer en dogter is gebruik om met haar beendere te vergelyk, wat bevestig het dat die geraamte aan Pietrewicz behoort.

Die huis het ten tyde van Pietrewicz se verdwyning aan William Boken, ʼn Southold-polisieman wat daar saam met sy vrou en kinders gewoon het, behoort.

Boken en Pietrewicz was volgens The Daily Mail in ʼn buite-egtelike verhouding en volgens die berig het albei hul eggenote van dié verhouding geweet.

Boken is in 1982 dood en waar Pietrewicz haarself bevind het, het vir jare ʼn raaisel gebly totdat die saak vrooër vanjaar deur owerhede heropen is.

Die kelder is in 2013 deeglik ondersoek en dele daarvan is opgegrawe sonder enige resultate, maar dié keer het die polisie ʼn grondpenetrerende sonar gebruik toe hulle die ondersoek weer hervat het. Volgens die The Suffolk Times het Boken se voormalige vrou onlangs ʼn wenk aan plaaslike owerhede gegee dat daar ʼn liggaam onder die kelder van die ou koloniale huis in Southold begrawe is.

Volgens die BBC het Pietrewicz se dogter, Sandy Blampied, aan The Suffolk Times gesê sy kan die laaste keer toe sy haar ma lewend gesien het, duidelik onthou. “Sy het my by die plaaslike skoolbusstop afgelaai. Sy sou ons nooit net gelos het nie. As sy êrens lewend was, sou sy my gebel het sodat ons saam kan wees.”

Sy het egter nooit gebel nie en niemand is in hegtenis geneem nie.

Die dag voor sy verdwyn het, het Pietrewicz glo ʼn groot bedrag geld uit haar persoonlike bankrekening getrek en dit toegemaak, het die Suffolk Times volgens die BBC berig. Die dag nadat sy die laaste keer lewend gesien is, het Boken uit sy pos as polisiebeampte bedank. Hy was glo die vorige drie dae met siekverlof.

Die kantoor van die Suffolk County- mediese ondersoeker het nog nie die oorsaak van Pietrewicz se dood bevestig nie.

Blampied glo egter dat Boken haar ma se moordenaar is. “Ek dink hy het haar die laaste dag wat ek haar gesien het, doodgemaak. Ek het haar ʼn druk en ʼn soen gegee voor ek weg is skool toe, en ek is seker dit is die dag wat hy haar vermoor het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.