“Die liggaam van John Petersen (24) is Maandag in die Kunenerivier gevind,” het Namibië se polisie in ʼn verklaring gesê. Petersen het op Oujaarsdag saam met vriende in die rivier geswem toe hy onder die water verdwyn het.
Petersen, ʼn vrywilliger vir die Amerikaanse Vredeskorps, se liggaam is 15km suid gekry van waar hy verdwyn het. Sy liggaam is na Oshakati geneem vir ʼn nadoodse ondersoek.
Carrie Hessler-Radelet, direkteur van die Amerikaanse Vredeskorps, het Petersen beskryf as ʼn “uitstekende vrywilliger met integriteit”. Volgens Hessler-Radelet het Petersen sy werk met hart en siel aangepak en het hy verhoudings met die Namibiese gemeenskap gebou sodat hy ʼn verskil kon maak.
“Ons is platgeslaan deur die verlies en die Vredeskorps se gedagtes en gebede is met die Petersen-familie in die moeilike tyd.”
Petersen word oorleef deur sy ouers en broer. Peterson is van Westborough in Massachusetts.