Vermoorde atleet se man aangekeer

Die Keniaanse atleet Agnes Tirop (Foto: KARIM JAAFAR / AFP)

Die Keniaanse atleet Agnes Tirop se eggenoot sal na verwagting Vrydag in die hof verskyn in verband met haar moord.

Emmanuel Rotich is Donderdag laataand in hegtenis geneem nadat sy vrou Woensdag met meswonde dood in hul huis in Iten in die weste van die land aangetref is.

Die owerhede het Rotich se selfoonnommer gebruik om hom in die kusstad Mombasa in die suidooste van Kenia, meer as 800 km van Iten, op te spoor, nadat hy eindelik sy ou simkaart op ’n nuwe selfoon gebruik het. Hy was sedert die moord nie bereikbaar nie.

ʼn Senior polisiebeampte in Mombasa het aan AFP gesê Rotich sal na verwagting vandag in die hof verskyn hoewel aanklaers waarskynlik vir meer tyd sal vra om ’n saak teen Rotich op te bou.

”Gegewe hoe gespanne die [situasie] in Iten is, is dit onwaarskynlik dat ons hom daar sal laat aankla,” het die polisiebeampte gesê.

Rotich is kort na die moord as ’n persoon van belang in die moordondersoek geïdentifiseer nadat hy ’n oproep na Tirop se ouers gemaak en gebieg het dat hy “iets verkeerd” gedoen het.

Atletiek Kenia het intussen atletiekbyeenkomste vir twee weke uitgestel ter gedagtenis aan Tirop en ʼn ander atleet wat die naweek dood is nadat hy vermoedelik sy eie lewe geneem het.

Jackson Tuwei, president van Atletiek Kenia, het intussen Tirop se dood as ʼn “groot slag” vir atletiek bestempel, haar as een van die vinnigste opkomende sportsterre bestempel en gevra dat geregtigheid so gou moontlik geskied.

Maroela Media het vroeër berig Tirop het ten tyde van haar dood vinnig begin naam maak. Sy het twee keer ʼn brons medalje vir die 10 000 m ontvang, was in 2015 die wêreld se landloopkampioen en het vroeër vanjaar vierde in die 5 000 m geëindig by die Olimpiese Spele in Tokio.

Sy het ook verlede maand die vroue 10 km-wêreldrekord verbeter in die Road to Records Event in Duitsland met ʼn tyd van 30:01 – dit is 28 sekondes vinniger as die vorige rekord, het Atletiek Kenia gesê.

Tirop het in 2015 ook geskiedenis gemaak toe sy die tweede jongste gouemedalje-atleet geword het in die vroue landloopkampioenskap naas Suid-Afrika se Zola Budd.

Haar familie het vandeesweek aan verslaggewers gesê dat sy hul broodwinner was en vir die kinders se kos en klere betaal het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

AW ·

Hoe weet mens dan nie dat jy ontslae moet raak van n SIM kaart…. veral nadat jy n misdaad Gepleeg het ….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.