Vermoorde atleet se man ‘persoon van belang’

Agnes Tirop van Kenia (September 2019) (Foto: Mustafa Abumunes/AFP)

Die Keniaanse atleet Agnes Tirop se eggenoot is ’n persoon van belang in die ondersoek na haar moord nadat sy Woensdag met meswonde dood aangetref is.

Haar man, Emmanuel Rotich, word sedertdien vermis.

“Hy kan ons vertel wat gebeur het,” het Tom Makori, bevelvoerder van die polisie, intussen aan AFP gesê.

“Die verdagte het ’n oproep na Tirop se ouers gemaak en gesê dat hy iets verkeerd gedoen het. Ons glo dus hy weet wat gebeur het.”

Tirop (25) se liggaam is by haar huis in Iten in die weste van die land aangetref.

Die belowende atleet het ten tyde van haar dood vinnig begin naam maak: sy het twee keer ʼn brons medalje vir die 10 000 m ontvang, was in 2015 die wêreld se landloopkampioen en het vroeër vanjaar vierde in die 5 000 m geëindig by die Olimpiese Spele in Tokio.

Sy het ook verlede maand die vroue 10 km-wêreldrekord verbeter by die Road to Records Event in Duitsland met ʼn tyd van 30:01 – dit is 28 sekondes vinniger as die vorige rekord, het Atletiek Kenia gesê.

Tirop het in 2015 ook geskiedenis gemaak toe sy die tweede jongste gouemedalje-atleet geword het in die vroue landloopkampioenskap naas Suid-Afrika se Zola Budd.

Die Keniaanse president Uhuru Kenyatta het Woensdag  ʼn hulde aan die jong atleet gebring en die polisie gemaan om diegene wat vir haar dood verantwoordelik is, aan die pen te laat ry.

“Dit is ontstellend, uiters betreurenswaardig en baie hartseer dat ons ʼn jong en belowende atleet verloor het. In die jong ouderdom van 25 het sy alreeds vir ons land soveel eer gebring deur haar prestasie op die internasionale atletiekverhoog,” het die president gesê.

Nóg ʼn langafstandatleet van Kenia, Hosea Mwok Macharinyang, wat lid was van die land se rekordverbeterende landloopspan, is Saterdag dood aangetref. Macharinyang (35) het vermoedelik sy eie lewe geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

AW ·

Waarom seer maak

Waarom dood maak

Waarom maar nie net skei of weg beweeg nie?

Shakespeare ·

Die “waaroms” is “rampant” in die New Sout Êfrica.

Androclus ·

“Die verdagte het ’n oproep na Tirop se ouers gemaak en gesê dat hy iets verkeerd gedoen het.So waarom vlug? Skuldig.

4ntj13 ·

Ek is net nie seker dat die moordenaars hom dalk nie net ontvoer het sodat die polisie nie verder ondersoek nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.