Vermoorde broers se liggame aan ouers oorhandig

Callum en Jake Robinson en Jack Carter Rhoad was aanvanklik as vermis aangemeld. (Foto: X)

Die liggame van twee Australiese broers wat in Mexiko vermoor is, is Donderdag na die VSA geneem en aan hul ouers terugbesorg.

Jake en Callum Robinson, wat onderskeidelik 30 en 33 jaar oud was, se liggame is van Tijuana na San Diego vervoer waar hul ouers daarop gewag het.

Die liggaam van Jack Carter Rhoad, hul 30-jarige Amerikaanse vriend wat ook vermoor is, is in die sorg van ‘n ander begrafnisondernemer.

Die drie het op ’n afgeleë strandgebied in die Baja California-staat gekamp toe hulle vermoor is. Ondersoekers glo daar was ʼn poging aangewend om hul bakkie te steel. Hul liggame is verlede Vrydag in ʼn diep skeur op ʼn krans gevind met koeëlwonde aan die kop.

Jesús Gerardo het reeds in die hof verskyn in verband met die moorde. Die aanklaer het gesê hulle is besig om bewyse in te samel om twee ander verdagtes ook aan te kla. Hulle is tans in aanhouding vir die beweerde besit van metamfetamien.

Baja California, geleë net suid van Kalifornië, is gewild onder Amerikaanse toeriste vanweë sy strande. Dit is egter een van Mexiko se gewelddadigste state weens georganiseerde kriminele bendes wat daar bedrywig is.

Die ouers van die twee Australiese broers het vroeër vandeesweek ʼn beroep op mense gedoen om ter herinnering aan hul seuns “groter te lewe, helderder te skyn en harder lief te hê”.

Debra en Martin Robinson sê “die wêreld het ’n donkerder plek geword” sedert die dood van hul seuns.

Martin het vriende en familie in Australië en die VSA bedank vir hul “oorweldigende ondersteuning” sedert die broers en hul vriend vermis geraak het.

“Hulle was jong mans wat hul passie om saam branderplank te ry uitgeleef het,” het Debra gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Niklaas ·

Om een kind aan die dood af te staan , moet is verskriklik . Dus sal twee van jou kinders se gelyke sterftes net onbeskryflik moet wees. Ek kan net dink hoe daai arme ouers se pyn tans beleef word. Soveel simpatie vir hulle.

Aai ·

Verkeerde plek verkeerde tyd.Wat is die regte plek op die regte tyd in die mal wereld vandag?Aai sterkte aan familie en vriende.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.