‘Vermoorde’ joernalis toe springlewendig

Arkady Babchenko tydens ʼn mediakonferensie in Kiëf in die Oekraïne (30 Mei 2018). Foto: Efrem Lukatsky/AP

Die nuus het Dinsdag aan die lig gekom dat Arkady Babchenko, ʼn Russiese joernalis, dood is nadat hy deur ʼn huurmoordenaar voor die deur van sy woonstel in Kiëf in die Oekraïne geskiet is.

Woensdagmiddag het Babchenko springlewendig by ʼn mediakonferensie ingestap. Babchenko se oorlewingsvaardighede word deur verskeie internasionale media as “wonderbaarlik” bestempel. Hy het in twee oorloë geveg en lewend teruggekeer. Hy het daarna verskeie oorloë as oorlogverslaggewer oorleef.

Dinsdag was die Oekraïnse owerhede oortuig dat Babchenko vermoor is weens sy politieke sienings. Sy familie, sy vriende en die wêreldmedia het geglo Babchenko is dood – tot hy Woensdag weer sy verskyning gemaak het.

Die Oekraïnse polisie het Dinsdag gesê Babchenko se vrou het hom voor hul woonsteldeur in ʼn plas bloed aangetref. Hy is deur ʼn huurmoordenaar in die rug geskiet en het op pad na die hospitaal gesterf. Verskeie van sy vriende en kollegas het huldeblyke aan hom geskryf en hul herinneringe aan hom op sosiale media gedeel.

Arkady Babchenko, die Russiese joernalis, luister na ‘n vraag tydens ‘n mediakonferensie saam met Vasily Gritsak, hoof van die Oekraïnse veiligheidsdienste, en Yuriy Lutsenko, Oekraïne se vervolgingsgeneraal (30 Mei 2018). Foto: Efrem Lukatsky/AP

Woensdagmiddag het Babchenko egter by ʼn nuuskonferensie opgedaag en die Oekraïnse veiligheidsdienste het bevestig dat sy “moord” doelbewus beplan en nagemaak is sodat die persoon wat ʼn moordenaar gehuur het om Babchenko te vermoor, nagespoor kon word deur middel van die huurmoordenaar. Volgens die owerhede is dié man ʼn plaaslike inwoner wat deur Russiese Intelligensie gewerf is.

Anton Gerashchenko, ʼn Oekraïnse wetgewer, het die “briljante spesiale operasie” geloof en geskryf hoewel die nuus van Babchenko se moord vir talle mense oor die wêreld heen pyn veroorsaak het, was daar geen ander manier om dit te doen nie.

Die vervalste moord kan moontlik Oekraïne se  geloofwaardigheid skade berokken, maar dit is belangrik om in ag te neem hoekom Babchenko so ʼn geloofwaardige teiken vir ʼn huurmoord was – wat nie die eerste voorval van sy soort vir ʼn teenstander van Russiese president Wladimir Poetin sal wees nie.

Aktiewe teenstanders van die Poetin-administrasie in Rusland, onder wie politici en ondersoekende joernaliste, word dikwels geteister en soms self vir kort tydperke in die tronk gegooi soos met die Russiese prokureur en politieke aktivis, Alexei Navalny, gebeur het.

Babchenko is al jare lank sterk uitgesproke teen Poetin en sy regering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Adriaan ·

Wat was die gevolg van die seun wat twee keer “Wolf” geskreeu het?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.