Vermoorde onderwyseres se man sterf dae ná skoolskietery

Irma en Joe Garcia (Foto: Gofundme.com)

Die eggenoot van een van die onderwyseresse wat by die Robb Elementary School in Texas doodgeskiet is, is enkele dae later aan ʼn hartaanval dood.

Joe Garcia het Donderdag by sy huis inmekaargesak kort nadat hy blomme vir sy vrou, Irma, se gedenkdiens gaan aflewer het.

“Hy het hom dood getreur,” meen John Martinez, ʼn familielid.

Irma het 23 jaar lank by die Robb Elementary School in Uvalde skoolgehou voordat sy, nóg ’n onderwyseres en 19 leerders Dinsdag koelbloedig by dié skool doodgeskiet is.

Joe en Irma was 24 jaar getroud en word deur vier kinders oorleef.

“Ek glo werklik Joe het gesterf van ʼn gebroke hart,” meen Irma se niggie, Debra Austin.

Martinez het aan The New York Times gesê polisiebeamptes het Dinsdag op Irma afgekom waar sy “tot haar laaste asem kinders met haar arms omhels het”.

“Sy het haarself opgeoffer om die kinders in haar klaskamer te beskerm,” het hy op ʼn geldinsamelingsblad geskryf. “Sy was ʼn held”.

Irma en Eva Mireles, die ander onderwyseres wat tydens die skietery dood is, het vyf jaar lank saam skool gegee en het meer as 40 jaar se ondervinding tussen hulle gehad.

Maroela Media het vroeër berig Salvador Ramos (18) het Dinsdag eers sy ouma in die gesig geskiet voordat hy op personeel en leerders by Robb Elementary losgebrand het. Ramos is later deur die polisie doodgeskiet.

Die laerskool het sowat 500 leerders tussen sewe en tien jaar oud en bied onderrig aan meestal Spaanse en ekonomies benadeelde leerders.

Bronne: BBC, NBC News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.