Verpleegster het glo 13 pasiënte vermoor

dokter

Foto: DarkoStojanovic/Pixabay.com

ʼn Middeljarige verpleegster met meer as 20 jaar ondervinding, is Donderdag in Italië in hegtenis geneem op aanklag dat sy minstens 13 pasiënte vermoor het.

Fausta Bonino (55) het by die waakeenheid in die hospitaal in Piombino, Toskane, gewerk. Die pasiënte is tussen Januarie 2014 en September 2015 oorlede.

Erasmo Fontana, bevelvoerder van die Carabinieri-polisie, het gesê die slagoffers was tussen 61 en 88 jaar oud en vir verskeie redes gehospitaliseer, maar “niemand was in ʼn lewensbedreigende toestand nie”.

Die pasiënte is dood nadat hulle dosisse Heparin, ʼn bloedverdunner, ingekry het wat nie voorgeskryf is nie, het nog ʼn polisiebevelvoerder, Gennaro Riccardi, gesê. Volgens hom het van die pasiënte tot 10 keer die normale dosis in hul bloed gehad.

Die dwelmmiddel is in soortgelyke hospitaalmoordsake gebruik, waaronder die Tsjeggiese verpleër Petr Zelanka. Hy is in 2008 lewenslange tronkstraf opgelê nadat hy sewe pasiënte vermoor en gepoog het om 10 ander te vermoor.

Bonino is in Oktober 2015 na ʼn ander saal geskuif. Na dié skuif het die sterftesyfer by die waakeenheid van 20% na 12% gedaal.

Die vrou, getroud met twee kinders, het glo minstens 20 jaar by die hospitaal gewerk en het behandeling ontvang vir depressie. Sy is by Pisa-lughawe in hegtenis geneem nadat sy saam met haar man van vakansie teruggekeer het.

Beatrice Lorenzin, minister van gesondheid, het die getuienis wat die polisie voorgehou het as “ysingwekkend, tragies” beskryf. Hy het gesê die inhegtenisneming is opnuut ʼn bewys vir die behoefte aan spesiale behandeling vir ou en brose persone wat hul lewens toevertrou aan gesondheidsorgfasiliteite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ebert Terblanche ·

Hierdie geval wys waarom dokters en verpleërs wat mense bystaan om selfmoord te pleeg, ‘n reuse mat skep waaronder soortgelyke vergrype weggesteek kan word.

Wanneer die pasiënt vermoor is, is daar niemand wat tot die teendeel kan getuig dat die pasiënt ontwillig was wanneer die dokters/verpleegsters ander aansprake maak nie.

Kyk maar na soortgelyke gevalle in België, Nederland en sekere deelstate in die VSA soos Oregon.

elize naude ·

!”het glo…” kom ons wag die court case af voorlat ons judge… seblief…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.