Verpleegster probeer baba glo vier keer vermoor

Lucy Letby (Foto: Facebook)

ʼn Hof in Brittanje het die afgelope week gru-besonderhede gehoor oor hoe ʼn verpleegster glo sewe babas in die Countess of Chester-hospitaal in die noorde van Engeland doodgemaak het.

Lucy Letby (32) het glo die babas tussen Junie 2015 en Junie 2016 om die lewe gebring. Sy word ook aangekla van poging tot moord op tien ander babas. Sy ontken egter dat sy twee dogtertjies en vyf seuntjies vermoor en die ander probeer vermoor het. Die jongste slagoffer was net ʼn dag oud.

Die staatsaanklaer, Nick Johnson, het in die hof verwys na die dood van die eerste dogtertjie as “uiters wreed, selfs in vergelyking met die saak in geheel”. Hy het aan die jurie gesê dat Letby die kind vier keer probeer vermoor het, voordat sy uiteindelik gesterf het. Hierna het sy glo ʼn simpatie-kaartjie aan die dogtertjie se ouers gestuur.

Daar word beweer dat sy aspris lug in die kind se maag deur middel van ʼn nasogastriese buis gepomp het. Die vier aanslae op die kind se lewe het oor ʼn tydperk van 23 dae plaasgevind en die dogtertjie het uiteindelik op die aand van 23 Oktober ineengestort, nadat sy reeds een keer daardie aand by die dood omgedraai het. Letby was op elkeen van die betrokke aande aan diens. “Die kind is baie vroeg en baie klein gebore, maar het die eerste twee maande van haar lewe oorleef, totdat Letby haar hande op die kind gekry het,” aldus Johnson.

ʼn Nadoodse ondersoek het later bevind dat die oorsaak van die dood waarskynlik lug is wat in die maag en later direk in die bloedstroom ingepomp is. Letby het later aan die polisie erken dat sy ʼn simpatie-kaartjie aan die ouers gestuur het, omdat sy “hulle leer ken het”.

“Sy het ook ʼn foto van die kaartjie op haar foon gehou en gereeld die ouers op Facebook opgesoek, net soos sy in die gevalle van ander drie babas gedoen het,” het Johnson gesê.

“Letby se optrede was doelbewus, aanhoudend en koelbloedig.”

‘Ek het hulle doodgemaak’

Die Manchester Crown-hof Engeland, (Foto: Oli SCARFF / AFP)

Die hof het later gehoor die polisie het op aantekeninge in Letby se woonstel afgekom, waarin sy glo die gru-dade erken.

“Ek is boos, ek het dit gedoen” en “ek verdien nie om te leef nie. Ek het hulle opsetlik doodgemaak want ek is nie goed genoeg om vir hulle te sorg nie. Ek is ʼn aaklige bose mens,” lui hierdie aantekeninge. Johnson sê die aantekeninge is tussen klomp papiere gevind, saam met aantekeninge wat aanvoer dat sy onskuldig is.

“Ek het niks verkeerd gedoen nie en hulle het geen bewyse nie, so hoekom moet ek hier wegkruip?” lui nog ʼn aantekening.

Letby se prokureur, Ben Myers, het aan die jurie gesê dit sou “ongelooflik onregverdig” wees om sy kliënt skuldig te bevind sonder dat enige bewyse voor die hof dien.

Hy sê die verdediging sal aanvoer dit is in sommige gevalle nie duidelik hoekom die kinders dood is of wat hul skielike agteruitgang veroorsaak het nie. “Letby was ʼn toegewyde verpleegster en wou net sorg vir die babas waarna sy moes omsien. Ons sal aanvoer dat sy nie skuldig is nie en die babas nie willens en wetens skade aangedoen of vermoor het nie.”

Die saak sal na verwagting vir ʼn periode van ses maande voor die hof dien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sonblom ·

As mens na haar kyk, dan lyk sy vriendelik en of sy oulik kan wees. Wys net weer never judge a book by its cover.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.