Verpleegster sit lank ná reeksmoorde op pasiënte

Reta Mays het dodelike dosisse van insulien aan haar bejaarde slagoffers gegee. (Foto: Facebook)

’n Amerikaanse verpleegster gaan lewenslank agter tralies sit nadat sy sewe militêre veterane onder haar sorg in ’n hospitaal vermoor het.

Reta Mays (46) het die moorde tussen Julie 2017 en Junie 2018 gepleeg deur dodelike dosisse van insulien aan haar bejaarde slagoffers te gee. Die mans was almal tussen die ouderdom van 81 en 96 en het glad nie insulienbehandeling benodig nie.

“Daar is geen verduideliking en absoluut geen regverdiging nie,” het regter Thomas Kleeh aan Mays tydens haar vonnisoplegging gesê.

“Jy is die ergste. Jy is die monster wat niemand sien kom nie.”

Benewens die sewe moorde het Mays ook skuld op poging tot moord van ’n agtste slagoffer beken.

Luidens berigte het Mays ’n verhoor en volledige ondersoek na etlike ander verdagte sterftes vrygespring nadat sy skuldig gepleit het.

“Ek het geen woorde wat aan die families troos kan bring nie. Ek kan bloot sê dat ek jammer is vir die pyn wat ek veroorsaak het,” het Mays Dinsdag gesê.

Sy was glo baie emosioneel, maar het geen verduideliking of motief vir die moorde gegee nie.

Mays se regspan voer aan dat sielkundige probleme en posttraumatiese stres-sindroom Mays se vermoë om helder te dink beïnvloed het.

Hoewel dit aanvanklik gelyk het of die slagoffers aan natuurlike oorsake dood is, is Mays se dade ontbloot nadat ’n dokter snuf in die neus gekry het. ’n Gevolglike ondersoek sowel as nadoodse ondersoeke het Mays se dade ontbloot.

“Ek weet nie waarom sy dit gedoen het nie. Ek dink nie ons sal ooit weet nie, maar sy het my lewe van my af weggeneem,” het Norma Shaw, vrou van een van die slagoffers, George Shaw, gesê.

Die Amerikaanse departement van veterane kan moontlik deur regsaksie in die gesig gestaar word om te bepaal of hy aanspreeklik gehou kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Phillip ·

Sien dis nie net ons piesang repbebliek wat so lyk nie dalk oor gespoel na hulle toe. Gesien oe word dit hier gedoen .

Misky ·

Dalk het sy gedink sy doen hulle ‘n guns en was in pyn. Steeds nie reg wat sy gedoen het nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.