Verpleegster wat babas ‘vergiftig’ vas

(Foto: pixabay)

ʼn Verpleegster in die Argentynse stad Cordoba is in hegtenis geneem in verband met die dood van minstens twee pasgebore babas.

Brenda Aguero (27) is Vrydag in hegtenis geneem in opdrag van aanklaer Raul Garzon, wat die dood van vyf pasgeborenes in die neonatale kraamhospitaal in Cordoba, 700 km noordwes van Buenos Aires, ondersoek.

Agt ander pasgeborenes was siek, maar hulle het nie gesterf nie.

Garzon het aan plaaslike media gesê die verpleegster is aangekla van moord op twee babas hangende die hersiening van die mediese rekords van drie ander babas.

Volgens Garzon is ʼn stof wat in die babas se liggame gevind is die moontlike oorsaak van hul dood. Daar is ʼn oormaat kalium in die babas se liggame ontdek.

Hy het gesê die oorlede babas is gesond gebore, en hul moeders se gesondheid was goed ten tyde van geboorte.

Die sterftes het tussen Maart en Junie plaasgevind, maar die saak het eers aan die lig gekom nadat die ouma van ʼn baba wat op 6 Junie gesterf het, ʼn klag ingedien het.

Garzon het gesê daar is “redes om die verdagte se verantwoordelikheid te aanvaar”.

Die verpleegster is een van nege mense wat vandeesmaand geskors is nadat ʼn ondersoek van stapel gestuur is om te bepaal of die sterftes weens moord, nalatigheid of wanpraktyke was.

Drie voormalige hospitaalbeamptes is aangekla van versuim om amptelike pligte uit te voer.

“Ons is verpletter as gesin,” het Raul Aragon, die pa van een van die oorlede babas, aan ʼn Cordoba-radiostasie gesê.

“Ons het probeer om ʼn natuurlike dood te verwerk en daaroor te rou, en nou besef ons dat hulle ons seun van ons afgeneem het, dat hulle hom vermoor het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

ALTA ·

Dis nie n nuwe verskynsel nie.Sy wou seker n reeksmoordenaar word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.