Verskeie 9/11-herdenkingsgeleenthede gehou

ʼn Foto geneem op 8 September van die One World Trade Center-gebou langs die National September 11-gedenkteken in New York. Foto: AP Photo/Mark Lennihan

Terwyl Amerikaners die verwoesting van twee orkane in drie weke moet hanteer is dit vandag ook die herdenking van een van die tragiesste gebeurtenisse in dié land se geskiedenis.

Op 11 September 2001 het militante van die Islamitiese terreurgroep Al-Kaïda vier vliegtuie gekaap en selfmoordaanvalle in die VSA uitgevoer. Twee van die vliegtuie is in die Twin Towers in New York City vasgevlieg, ʼn derde in die Pentagon net buite Washington DC en die vierde vliegtuig het in ʼn veld naby Shanksville in Pennsilvanië neergestort. Byna 3 000 mense het gesterf.

Duisende oorlewendes en geliefdes van die slagoffers van die 9/11-tragedie asook reddingswerkers kom Maandag by die World Trade Center bymekaar om dié dodelikste terreuraanval in Amerika te herdenk. Sestien jaar later het die stille ritmes van herdenking al ʼn gewoonte geraak: die voorlees van die name van die oorledenes, oomblikke van stilte en die geluide van klinkende klokke en twee sterk ligstrale wat deur die nag sal skyn.

Pres. Donald Trump, ʼn boorling van New York en wat vir die eerste keer die herdenking as die VSA se president sal waarneem, sal ʼn oomblik van stilte waarneem teen die tyd wat die eerste vliegtuig die gebou getref het. Die Withuis het gesê die presidentsvrou, Melania Trump, sal by haar man hiervoor aansluit.

Trump sal ook aan die herdenkingsgeleentheid by die Pentagon deelneem. Jim Mattis, die minister van verdediging, en genl. Joseph Dunford, hoof van die Amerikaanse weermag, sal om 09:11 (Ooskus-tyd) ʼn private herdenkingsgeleentheid hou saam met die slagoffers se naasbestaandes. Daarna sal daar ʼn openbare geleentheid wees waartydens kranse gelê sal word.

ʼn Foto geneem op 8 September 2017 van die National September 11-gedenkteken en museum omring deur geboue in New York. Foto: AP Photo/Mark Lennihan

Intussen sal adjunkpres. Mike Spence en Ryan Zinke, die VSA se minister van binnelandse sake, toesprake lewer by die Flight 93-gedenkteken naby Shanksville.

Te midde van die herdenking van hierdie geskiedkundige dag het Mike Berger, woordvoerder van die 9/11 Truth-voorspraakgroep, aan Sputnik gesê die 9/11-terreuraanvalle is sedertdien deur die Amerikaanse regering as ʼn verskoning gebruik om die oortreding van grondwetlike en burgerregte te regverdig.

“[9/11] het basies vir alle fasette van die regering ʼn uitkomkans gebied,” het Berger gesê. “Al wat jy moet doen is om nasionale veiligheid voor te hou as ʼn rede om misdaad weg te steek.”

Berger het as voorbeeld die chemiese aanleg genoem wat tydens die onlangs oorstromings in Texas ontplof het. Die maatskappy betrokke het geweier om ʼn lys van giftige elemente te verskaf om chemiese gevare te kan evalueer en het beweer hy het die wetlike reg om hierdie inligting te weerhou.

Paul Murdoch, argitek van die Flight 93-gedenkteken, lui ʼn klok by die toekomstige perseel van die Tower of Voices Flight 93-gedenkteken naby Shanksville in Pennsilvanië (10 September 2017). Foto: Todd Berkey/The Tribune-Democrat via AP

“Maatskappye gebruik hierdie wetgewing, wat ná 9/11 goedgekeur is, om onder die voorwendsel van moontlike terreur nie inligting bekend te maak nie. Met ander woorde, op grond van beweerde kommer oor nasionale veiligheid het hulle die wetlike verpligting om die publiek in te lig omtrent dít wat openbaar behoort te wees omseil,” het Berger gesê.

Die 9/11 Truth-beweging is ʼn beweging wat in 2002 begin is nadat ʼn alliansie van aktiviste saamgekom het om die families van die terreuraanvalle te ondersteun. Hoewel Berger aanvoer die groep het nie ʼn agenda nie, was die groep se doelwit om die beweerde rol wat die Amerikaanse regering in die orkestrasie van die terreuraanvalle gespeel het bloot te lê.

Oor die jare het die groep talle regsgedinge aan die gang gesit wat alles misluk het, insluitend ʼn aansoek aan New York se prokureur-generaal om die rol van die regering by die aanvalle te ondersoek.

Berger voer aan 9/11 is ʼn simptoom wat nooit sal weggaan nie en om die werklike oorsake en gevolge van die aanvalle te verstaan, kan help om die soortgelyke aanvalle in die land se onlangse verlede te verduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jan ·

Dit was n inside job sodat die elite kan oorlog maak. Google 911inplanesight. Daars baie bewyse.

anton ·

Net n vragie?
So die feit dat Bin-Laden en sy Al-Kaida groep verantwoordelikheid aanvaar het vir die vliegtuig aanvalle is dan ook n ”Inside job” ???
Baie sogenaamde bewyse kan ook ”opgemaak” word, sodat alles anders voorkom.
Mens kan die Liberaal gesindes nooit ooit vertrou met niks nie!!!

Gerhard ·

Soos ek voorheen genoem het die sg. “9/11 Truther-beweging” is fopnuus wat geen plek het op ‘n gerespekteerde nuusblad nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.