Verskeie beseer in mesaanval by Sydney-winkelsentrum

Polisie rig versperrings op by die Westfield Bondi Junction-winkelsentrum (Foto: David Gray/AFP)

Die polisie in Australië het Saterdag gesê hulle het berigte ontvang dat “verskeie mense” beseer is in ʼn mesaanval by ʼn besige winkelsentrum in Sydney, Australië.

Die voorvalle het by die Westfield Bondi Junction-sentrum plaasgevind. Die winkelsentrum was Saterdagmiddag (plaaslike tyd) vol inkopiegangers.

Die sentrum is intussen gesluit en die polisie versoek inwoners om die gebied te vermy.

New South Wales Ambulance het aan AFP gesê een man is deur die polisie doodgeskiet. Hy was vermoedelik een van die aanvallers.

Die motief vir die aanval is nog nie bekend nie.

Ooggetuies het gesê daar was paniek op die toneel. Inkopiegangers het na veiligheid gehardloop en die polisie het gepoog om die gebied te beveilig.

Verskeie mense het in ʼn supermark gaan skuil. Hulle het sowat ʼn uur lank daar gebly.

Kringtelevisiebeeldmateriaal deur plaaslike media wys hoe ʼn man met ʼn groot mes deur die winkelsentrum gehardloop het met beseerde mense wat op die grond lê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.