Verskeie Olimpiese atlete positief vir virus

‘n Man neem ‘n foto van ‘n bord wat aandui wanneer die Olimpiese Spele begin. (Foto: Yuki Iwamura/AFP)

Twee atlete was die eerstes om positief te toets vir die koronavirus in Tokio se Olimpiese dorpie, het amptenare Sondag bevestig. Dít terwyl nuwe grensbepalings in Europa groot frustrasie veroorsaak.

Minder as ʼn week voor die Spele veronderstel is om te begin, veroorsaak die gevalle selfs verdere kommer oor die roemryke sportbyeenkoms.

Die organiseerders het die Spele beskryf as die wêreld se “mees beperkende sportgeleentheid”, weens al die maatreëls wat geld, maar daar is groot teenkanting in Japan dat dit nuwe infeksies na ʼn land gaan bring wat reeds steier onder ʼn vlaag uitbrekings.

ʼn Daaglikse opname van nuwe gevalle het gewys twee atlete in die Olimpiese dorpie en een wat elders tuisgaan het positief vir Covid-19 getoets. Dit volg ʼn dag nadat ʼn ongeïdentifiseerde persoon, nie ʼn deelnemer nie, die eerste geval in die Olimpiese dorpie was.

Brittanje is boonop onder skoot oor sy besluit om Frankryk van sy verslapte toegangsbeleid uit te sluit. Inwoners van die Verenigde Koninkryk (VK), selfs al is hulle teen Covid-19 ingeënt, sal steeds 10 dae in kwarantyn moet bly as hulle uit Frankryk na die VK terugkeer.

“Ek is ʼn dokter, dus verstaan ek die gesondheidskwessies goed, maar hierdie maak geen sin nie,” sê Maud Lemoine, ʼn Londense dokter op besoek aan Frankryk.

Frankryk se regering het hom op sy beurt ook die gramskap van mense op die hals gehaal nadat hy aangekondig het dat besoekers uit Engeland en verskeie ander Europese lande ʼn bewys moet toon dat hulle negatief vir Covid-19 is, selfs al is hulle teen die virus ingeënt. Dié toets moet nou 24 uur voor die reis gedoen word, pleks van die tussen 48 en 72 uur wat die geval in die verlede was.

Die departement van binnelandse sake sê byna 114 000 betogers het Saterdag oor Frankryk heen byeen gekom om protes aan te teken teen die regering se hantering van die pandemie en die voortgesette beperkings op alledaagse bedrywighede.

“Ons dink nie die aarde is plat nie, maar ons weet nie wat die uitwerking is van dié entstowwe wat inderhaas saamgeflans is nie,” sê Rita, ʼn 39-jarige versorger van Montpellier.

Elders in Europa het Griekse owerhede inperkingsregulasies op die partytjie-eiland Mykonos verskerp, terwyl die Spaanse owerhede dieselfde in Barcelona en ander stede in die noordoostelike streek van Katalonië gedoen het.

Europa steier

Europese regerings voer intussen ʼn opdraande stryd teen die pandemie, met die Europese Unie (EU) se agentskap vir siektevoorkoming wat waarsku dat infeksies teen 1 Augustus vyfvoudig kan toeneem.

Goeie nuus vir die streek is egter dat meer Europeërs as Amerikaners nou teen die virus ingeënt is. Nagenoeg 55,5% van hulle het nou reeds ʼn eerste dosis van die entstof ontvang, in vergelyking met 55,4% in die VSA.

In Brittanje, waar die grootste gedeelte van die volwasse bevolking reeds albei inentings ontvang het, berei die regering voor om die meeste beperkings te verslap.

Die beoogde verslapping van regulasies, wat onder meer sal insluit dat die dra van maskers nie meer nodig is nie, kom terwyl meer as 50 000 nuwe gevalle Vrydag in die VK aangemeld is en die regering sê die infeksiekoers kan in die volgende paar weke verdubbel.

Amptenare sê egter die hoë inentingskoers behoort ʼn toename in sterftes en ernstige siekte te voorkom.

Die land se minister se gesondheid, Sajid Javid, het vandeesweek positief vir Covid-19 getoets. Hy het reeds twee dosisse van die entstof ontvang.

Terwyl die gevalle skerp styg, waarsku sommige kenners die verslapping van regulasies is roekeloos.

“Dit is nie net ʼn bedreiging vir Engeland nie, maar vir die hele wêreld, en veral vir lae-inkomste- en middelinkomstelande wat baie beperkte toegang tot entstof het,” het ʼn groep internasionale wetenskaplikes Vrydag in ʼn verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Blomme ·

Wat is die doel van die inentings as die positiewe getalle steeds styg?

Dirk Mostert ·

Frankryk vereis ‘n resente negatiewe toets ongeag of die besoeker geent is. Dus enting vrywaar jou nie van infeksie nie. Dit maak ook ‘n klug van vaksienvisums.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.