Versnipperde Banksy-kunswerk weer onder hamer

Banksy se bekende “Girl with Balloon” skildery is herdoop na “Love is in the Bin” nadat dit ten aanskoue van almal by ‘n veiling van Sotheby in 2018 versnipper is. (Foto: Xinhua/Ray Tang)

ʼn Opspraakwekkende kunswerk deur die Britse kunstenaar Banksy, wat in 2018 gedeeltelik versnipper is kort nadat dit vir miljoene ponde opgeveil is, sal volgende maand weer onder die hamer kom.

Die kunswerk, destyds getiteld Girl with Balloon, het aanvanklik £1,1 miljoen (R20 miljoen) by ʼn veiling deur Sotheby’s in Oktober 2018 gehaal. Die kunswerk sal nou onder die nuwe naam, Love is in the Bin, deur dieselfde afslaer opgeveil word. Sy beraamde waarde word nou tussen £4 miljoen en £6 miljoen (tussen R80 miljoen en R120 miljoen) geskat, ʼn astronomiese verhoging in waarde oor die afgelope drie jaar.

Dieselfde persoon wat die kunswerk in 2018 gekoop het, wie se naam nie bekend is nie, laat dit nou opveil.

Die kunswerk het ʼn opskudding veroorsaak toe dit destyds, kort nadat die afslaer die bod toegeslaan het, deur ʼn versnipperaar begin beweeg het wat in die raam geïnstalleer was.

Banksy het later ʼn video op sy Instagram-profiel geplaas waar hy wys hoe ʼn versnipperaar in die raam geïnstalleer word. “Ek het ʼn paar jaar gelede skelm ʼn versnipperaar in ʼn skildery se raam ingebou, net ingeval dit ooit onder die hamer sou kom,” het hy toe gesê.

Die koper van Girl with Balloon het op die ou end wel voortgegaan met die aankopery en gesê sy is bly om ʼn deel van die kunsgeskiedenis te besit.

Die anonieme koper het die afgelope week aan AFP gesê dit was wonderlik om deel te wees van die reis wat een van die bekendste kunswerke gevorm het, “maar dit is tyd om die kunswerk te laat gaan”.

Net ʼn paar nabye kennisse ken Banksy se ware identiteit. Hy het bekendheid verwerf vir sy straatkuns en van sy jongste kunswerke het onlangs in verskeie Britse kusdorpies verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frank John ·

Wonder oor die versnipperaar. Wat is dit, ‘n tipe insek of ‘n meganiese instrument?

Alta Alleman ·

Mense laat hulle kul vir iets wat hulle “kuns” noem. Vir my lyk dit glad nie eens waardevolle nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.