Versoek om ebola-reisverbod op te hef

Dokter voor ʼn ebola-sentrum in Kailahun, Sierra Leone (Augustus 2014) Foto: Sylvain Cherkaoui Cosmos/Dokters Sonder Grense

Dokter voor ʼn ebola-sentrum in Kailahun, Sierra Leone (Augustus 2014) Foto: Sylvain Cherkaoui Cosmos/Dokters Sonder Grense

Altesaam 11 maatskappye het regerings versoek om die reisverbod na ebola-geteisterde lande op te hef, aangesien dit glo die humanitêre krisis kan vererger.

Die uitvoerende hoofde van maatskappye wat in Wes-Afrika besighede bedryf, insluitend Lakshmi Mittal van ArcelorMittal en Mark Bristow van Randgold, het die internasionale reaksie op die epidemie geprys, maar gesê daar is maatreëls wat meer skade aanrig as wat dit goed doen. “Daar is ʼn risiko dat die beperking op reis na lande wat deur die virus geraak word, die toenemende humanitêre krisis kan vererger,” het hulle in ʼn gesamentlike verklaring gesê.

Lande en lugrederye van Suid-Afrika tot Engeland het reis na lande soos Guinee, Liberië en Sierra Leone opgeskort.

“Ons maatskappye het langtermynverpligtinge teenoor hierdie lande en hul mense en ons wil graag dié verpligtinge nakom,” het die maatskappye gesê. “Ebola is sonder twyfel ʼn vreeslike virus. Maar met die regte begrip, voorsorgmaatreëls en prosesse kan dit voorkom word en onder beheer gebring word.”

Meer as 2 000 mense is reeds in Wes-Afrika dood en daar is ʼn toenemende impak op die ekonomie.

Kontrakteurs het reeds onttrek uit die staalreus ArcelorMittal se bedrywighede in Liberië. Skeepsroetes is ook ontwrig.

Die Afrika Ontwikkelingsbank beraam dat die betrokke lande tot 1.5% van sy bruto binnelandse produk kan verloor.

“Sonder die ondersteuning van die internasionale gemeenskap sal die impak op hierdie lande se ekonomieë, wat steeds sukkel om te stabiliseer ná dekade lange burgeroorloë, selfs nog meer verwoestend wees,” het die maatskappye gesê.

Die Afrika-Unie en die Wêreldgesondheidorganisasie het soortgelyke versoeke gerig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Paplepel ·

Moeilike besluite; Maak ons die grense weer oop sodat die geld weer kan vloei en loop die risiko dat die res van die wêreld miljoene Ebola sterftes gaan ervaar of sluit ons die grense en een of twee lande gaan ekonomies sukkel met ‘n paar duisend sterftes. Ek vermoed die geld gaan weer wen. Maak julle reg vir ‘n pandemie soos wat VIGS nie kon wees nie.

Meisie ·

Ek stem saam met paplepel. Wat is `n paar duisen of miljoen sterftes nou?? Solank die geld net vloei is dit mos geregverdig!! Waar alles gaan eindig, kan ons maar net wonder.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.