Versonke vastelande toe nié ’n mite

Argieffoto

Argieffoto

Die onlangse aankondiging dat ’n versonke vasteland in die oseaan oos van Australië ontdek is, en waarvan Nieu-Seeland die grootste deel is wat steeds kop bo water hou, haal steeds die nuus.

Die verskynsel staan as Zealandia bekend, maar het ook ’n paar alternatiewe name.

Die nuus volg kort op bevestiging dat Mauritius ook op ’n brokstuk van ’n vasteland (Mauritia) ontstaan het, en nie maar bloot ’n vulkaniese eiland is nie.

In 2013 het wetenskaplikes aangekondig dat hulle die oorblyfsels van ’n versonke vasteland sowat 1 500 km oos van Rio de Janeiro gevind het. Dit het gou die bynaam van die Brasiliaanse Atlantis gekry.

Hierdie vastelande het almal ontstaan en gesink miljoene jare voor die eerste mense die aarde bewandel het.

Nog ’n moontlike versonke vasteland wat nou gereeld in argeologie ter sprake kom, is Beringia. Dit is wel deur mense bewoon, en staan in die vakwetenskap bekend as die Beringia-stilstand.

Anders as wat aanvanklik verstaan is, was Beringia nie net ’n smallerige landbrug wat van Siberië na Alaska gestrek het toe die seevlak weens die laaste groot ystydperk baie gedaal het nie. Volgens die jongste beramings was dit ’n groot landmassa wat die tuiste van mens en dier geword het, en wat ook mettertyd tot die vestiging van die mens op die Amerikas gelei het.

Verlore vastelande hou vir die mens al duisende jare groot romantiek in. Die oudste legende is moontlik die bestaan van Atlantis lank voor Christus nadat Plato na die bestaan van hierdie wonderlike ryk met gevorderde tegnologie verwys het.

Nog een, maar meer onlangs, is die versonke vasteland van Mu. Die oorspronklike aanspraakmaker, Augustus le Plongeon, het die ligging van Mu in die 19de eeu in die Atlantiese Oseaan geplaas. Die gedagte is dat Mu eens ʼn hoogsbeskaafde vasteland was wat weggesink het met vlugtelinge wat vir die beskawings van die Mayas en Egiptenare gesorg het. Daar is egter oorweldigend méér bewyse dat die beskawings van die Ou Wêreld onafhanklik van dié van die Nuwe Wêreld ontwikkel het.

Later het James Churchward die 20ste-eeuse konsep ontwikkel dat Mu in werklikheid in die Stille Oseaan bestaan het.

In die 19de eeu het die konsep van nóg ’n versonke vasteland, Lemuria, ontstaan na aanleiding van die ooreenkomste in plantegroei en dierelewe in Madagaskar en Indië.

Hoewel die werklike versonke vastelande, uitgesonderd Beringia, weggesink het lank voor die mensdom bestaan het, hou die gedagte steeds ʼn bekoring in. Mu sou byvoorbeeld van 50 000 jaar gelede tot ongeveer 15 000 jaar geklede ’n florerende beskawing gehad het, en die vasteland is deur meer as 60 miljoen mense bewoon.

Zealandia, waarvan die kaart ten dele met dié van Mu oorvleuel, het egter miljoene jare gelede onder die golwe verdwyn.

Harde wetenskaplike feite oortuig nie almal nie. Daar sal altyd iets onverklaarbaar wees wat “net” deur onlangs versonke beskawings verklaar kan word. Die woord vir die Egiptiese songod, Ra, kom byvoorbeeld baie ooreen met ʼn woord vir dieselfde begrip op die Paaseilande.

So maak verskeie godsdienste en kultusse steeds gebruik van konsepte wat uit die versonke vastelande ontwikkel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Katrien ·

Dankie Maroela,gee ons bietjie meer sulke nuus en inligting

Cherokee ·

Dankie Herman. Dit is werklik baie interessant. Mense het dus daardie jare met karre om die wêreld gery en was nie afhanklik van see- en lugvaart nie. Jy kan gerus maar begin voorberei vir die 6000jaar mense:-)

Arrie ·

Binne die volgende 4 j gaan die grootste versongkings en verreisings van vastelande plaas vind soos hierdie aarde nog nooit beleef het nie.

Gert ·

As julle glo dat die aarde miljoene jare oud is glo julle in evolusie wat in skerp kontras staan met die skepper en die skepping.

Adoons ·

Ja Gert, Herman is seker ook een van daardie ateiste wat glo dat Afrikaans uit Nederlands ontwikkel het. Gelowiges soos ek en jy weet mos die Skrif leer dat al die tale by die Toring van Babel ontstaan het.

Herman Toerien ·

Hallo Gert
Daar is verskeie benaderings tot die skepping / evolusie, waaronder die ou aarde kreasioniste. Dit is een van die benaderings wat bv deur die NG Kerk aanvaar word. Hulle aanvaar die wetenskaplike bewyse van ‘n aarde wat miljarde jare oud is. Voorts erken die meeste susterkerke die benadering van Teïstiese (Godgedrewe) evolusie. Die een benadering wat nié oral aanvaar word nie, is die jong aarde kreasionisme, en die dokument hieroor is bv nie ir bespreking tydens ‘n vorige sinodesitting van die GKSA aanvaar nie. Lees gerus Ps 90 en 2Petrus 3.

Thys ·

Gert, jy is 100% korrek en wat jy glo word ook wetenskaplik gestaaf. Soos ek hieronder in n’ ander antwoord genoem het gaan kyk gerus na http://www.creation.com of zastore.creation.com vir meer inligting.

Cecilia Steyn ·

Gert, onthou net dat een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag vir God is.

RB ·

Stem saam met jou Gert. (Terloops Ps90 en 2 Petrus 3, en die hele woord van God stem ook saam met jou.)

Maar, vir die wat nog nie die saak volledig ondersoek het nie, God gaan nie omgee hoe oud mens dink die aarde is nie, solank dit nie jou geloof belemmer nie. God gaan oor jou geloof omgee. As die ouderdom van die aarde vir iemand ‘n struikelblok is, gaan gerus ook na https://answersingenesis.org , en spesifiek na https://answersingenesis.org/age-of-the-earth vir meer inligting.

Kobus ·

Gert,
Sal graag by jou wil hoor hoe oud jy dink die aarde is? 8000jaar? Daar was seker volgens jou dinosorusse op Noag se ark? Staaf asb jou antwoord met bewyse.

Paul ·

Plato se Atlantis was slegs ‘n denkeksperiment. Dis die manier hoe Plato geskryf het, met metaforiese verhale. Enigiemand wat enigsins al ooit Plato gelees het, weet dit.
Sy “Atlantis” was nie ‘n verwysing na enigiets werklik of in bestaande mites nie, dit was eenvoudig sy manier om te sê: “Gestel daar was ‘n beskawing met hierdie en hierdie eienskappe, maar toe verdwyn dit onder die see… ens.”

Paul ·

Herman, dink jy regtig dis enigsins betekenisvol dat een van die eenvoudigste lettergrepe wat bestaan, “ra”, deur twee verskillende kuture vir ‘n soortgelyke ding gebruik sal word?
Dit sou in der waarheid verbasend wees indien so iets NIE per toeval plaasgevind het iewers in die wêreld nie.

Ook, dis sekerlik “Paaseiland” eerder as “Paaseilande”? Daar is net een eiland daar, dis nie ‘n eilandgroep nie.

Nico K ·

Ek verstaan ook nie hoekom wil mense die ewolusie teorie verkeerd bewys met die Bybel nie. Ek sê nie alles in die ewolusie teorie is waar nie. Dit bly ‘n teorie en is moeilik bewysbaar, maar ons weet tog vandag dat die aarde nie op 4 pilare staan nie. En ons weet dat toe Joshua gebid het dat God nie die son laat stilstaan het nie. (Onthou Joshua wou hê die dag moes langer wees. As die son gaan stil staan het sou dit geen verskil gemaak het nie. God sou die aarde stadiger moes laat draai.) Die Bybel is geskryf deur mense van daardie tyd met wetenskaplike kennis van daardie tyd. Sou dit gebeur dat die ewolusie waar is, gaan dit geen verskil aan my geloof maak nie.

Mareli ·

Dankie Maroela vir die uitsonderlike artikel. Dit is lekker om bietjie ander nuus as net dood en moordslag te lees.

Du Toit Maritz ·

Dankie Herman, baie interessant. Iets wat my altyd vol verwondering maak, is die feit dat as dit nie vir tektoniese aktiwiteit was nie, die hele aarde onder ‘n paar kilometer water sou wees. So die beweging van die aardkors, en die botsing van die verskillende dele daarvan met mekaar, maak droë grond moontlik.

t ·

Het dit ook so ervaar. Die sinnelose gekrabbel van mense wat nou een maal NIE wil dink nie.

E.K. - ek sê net! ·

Uiters interessant. Daar is nog baie wat die mens nie weet nie. Lekker om iets te lees wat mens weer bietjie laat dink oor ander dinge as net misdaad en nare goed wat meestal die nuus (ongelukkig, maar onvermydelik) oorheers. Dankie Herman, lees altyd enigiets wat jy skryf!

Reinhardt ·

Dankie Herman, dit was vreeslik interessant. Asseblief skryf meer sulke berigte.

Daar is n kanaal op YouTube genaam AlternateHistoryChannel waar die ou alternatiewe geskiedenisse voorstel en dan speel met die idee van hoe dinge moontlik kon uitdraai, daarin gesels hy ook van Zealandia, en sou dit nog bestaan, hoe sou die plantlewe, dierlewe en mense daarop wees, asook watter effek dit op seestrome in die gebied sou he en die uitwerking op Australië.

SARIE VAN HEERDEN ·

Dankie Maroela vir ietsie anders is net moord en doodslag-nuus. Hoe interessant en leesaam was hierdie berig van julle nie.

Barend ·

Die Sumeriërs (Abraham se mense) het vermoedelik vanaf ‘n versonke vasteland gekom en in die Persiese Golf opgevaar en aan land gegaan. Daar is nie ‘n ander verklaring vir hulle oorsprong nie, want hulle het nie vanaf die noorde oor land gekom nie. Groot geheimsinnigheid omsluit hierdie mense.

Paul ·

Geen ander moontlikheid nie?

Al ooit gehoor van Occam se Skeermes?

Charles ·

Barend… Abraham se mense, die Sumeriers?… is dit nie bewys dat hulle ouers is as die bybel se tyd en miskien ouers as die Egiptians nie??

Trots Afrikaans ·

Nou mis ek iets. Wanneer is ‘n bult in die seebodem nou net seebodum en wanneer is dit ‘n versonkte vasteland.

Is die kontinente dan nie meskien net verdroogde seebodems nie?

Ek dink julle raak te slim vir julleself. Plaas julle kry ‘n regte werk en help om iets sinvol te bereik soos kos maak vir honger mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.