Versterk Grace Mugabe só visier op presidentspos?

Grace Mugabe (Foto: ANA)

Die Zimbabwiese presidentsegpaar, Robert en Grace Mugabe, het Saterdag tydens ʼn samespreking in Bindura buite Harare na dié land se adjunkpresident, Emmerson Mnangagwa, gekap.

Die Mugabes het Mnangagwa tydens dié byeenkoms beskuldig van ʼn reeks kwessies soos onder meer sameswering om Mugabe se presidentskap tot ʼn einde te bring en dat hy  nié die regerende party, Zanu PF, ondersteun nie.

Volgens Grace het Mnangagwa die presidentsegpaar al telkemale in die openbaar gekritiseer. Sy het ook al “baie slegte stories” gehoor wat glo deur Mnangagwa begin of versprei is.

Sy het Mnangagwa en sy vrou, Auxillia, daarvan beskuldig dat hulle “saam met mense kuier” wat uit die regerende party geskop is omdat hulle glo verdeeldheid in die party veroorsaak en onenigheid in die party teweeggebring het. Grace het gesê Mnangagwa moenie “saam met dié mense kuier as hy regtig agter Mugabe staan nie”.

Robert Mugabe (Foto: ANA)

“Ek vra nou vir Mnangagwa om dit stop te sit. Ek het al een keer vantevore vir Mujuru [die voormalige adjunkpresident] gewaarsku en sy het nie ag geslaan daarop nie. Waar is sy nou?” het Grace gesê.

Sy het verwys na Joice Mujuru wat in Desember 2014 uit die regerende party geskop is nadat sy beskuldig is van sameswering om Mugabe uit sy magsposisie te laat verwyder. Mujuru is nou die leier van die opposisieparty, naamlik die National People’s Party.

“Kom ons lieg nie en sê dat alles oukei is binne die party as dit nie is nie,” het Grace voortgegaan. “Ons weet alles van jou [Mnangagwa], goed of sleg.”

Grace het ook gevra waarom Mnangagwa geswyg het toe die Mugabe-familie se suiwelbesigheid deur die modder gesleep is. Talle mense het glo weens produkte van dié besigheid siek geraak. Sy sê Mugabe het meer as een keer vantevore voedselvergiftiging opgedoen, onder meer by ʼn byeenkoms in Manicaland én by die begrafnis van Edna Madzongwe, ʼn Zimbabwiese politikus, se man. Sy sê die egpaar het egter nié die voorvalle vir politieke wins uitgebuit nie, hoewel Mnangagwa volgens haar wel die slegte naam van hul besigheid tot sý voordeel ingespan het.

Emmerson Mnangagwa en sy vrou, Auxillia (Foto: ANA)

Op sý beurt het pres. Mugabe die adjunkpresident onder meer as leier van die Tsholotsho-deklarasie beskuldig – ʼn deklarasie wat glo bestaan uit ander leiers van die regerende party om Mugabe as president te verwyder.

Hy het ook gesê Mnangagwa het is die oorsaak dat een van sy teëstanders, Godfrey Majonga, se rug gebreek het in 1987 ná hy hom in ʼn rusie die opsie gegee het om uit die tweedeverdieping-venster van ʼn woonstel te spring of op ʼn rooiwarm stoofplaat te sit.

Dié byeenkoms en die presidentsegpaar se onverwagse sameswering teen Mnangagwa kan moontlik toegeskryf word aan Grace wat haar visier sterk op die presidentspos het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

John ·

Bewaar suidelike Afrika as die ‘tea parties’ van Grace en Dlamini-Zuma begin. Dit gaan ons kos…

Hanna ·

Ek was op n stadium in n bestuurspos. Jy Stel nie moeilikheid -makers se families aan as hulle aftree nie. Die sulkes probeer steeds om jou besigheid te regeer vanaf hulle Huise.

Nuwe bloed is beter as infekteerde bloed

marous ·

Hoop regtig Bob bly perdfris vir nog 200 jaar….sodat sy hom met liefde en respek kan behandel tot die einde van haar dae.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.