Vervolging van Christene in Indië styg skerp

Vinita, ʼn Christen-vrou van Indië, en haar ses maande oue babadogtertjie is amper doodgemaak in ʼn gewelddadige aanval. Ná die aanval is hulle hospitaalbehandeling geweier weens hul geloof. (Foto: Geopende Deure)

Die vervolging van Christene styg skerp in Indië en word gedryf deur Hindoe-ekstremiste se doelwit om die land van alle nie-Hindoe-gelowe te bevry en die kerk teen die einde van 2021 uit te wis.

Christene in die land leef in voortdurende vrees, namate ʼn sistematiese veldtog van gewelddadige teistering, verkragting en moord teen hulle gevoer word.

Dit is die bevindings van ʼn skokkende nuwe verslag van die London School of Economics (LSE), wat in opdrag van die bedieningsorganisasie Geopende Deure Internasionaal saamgestel is. Die verslag, getiteld “Destructive lies – Disinformation, speech that incites violence and discrimination against religious minorities in India”, beskryf die uiterste vervolging wat Christene en Moslems ervaar. Gewelddadige groepe Hindoe-nasionaliste of Hindutva*, wat hulle gedurig dophou, is hiervoor verantwoordelik.

Ekstremiste is uiters georganiseerd en huiwer nie om uiterste geweld te gebruik om hul doelwit te bereik nie. Hulle gebruik propaganda om geweld en diskriminasie aan te hits, en beywer hulle vir veranderinge in amptelike beleidstellings om die kerk se vryheid te beperk. Daar word teen Christene gediskrimineer, hulle word deur hul families en gemeenskappe verwerp, hulle sukkel om te oorleef en vrees dikwels vir hul lewe.

Skending van regte

Alle kategorieë van Christen-gemeenskappe se regte word in Indië geskend en bekeerlinge vanaf ʼn Hindoe-agtergrond word op die volgende maniere die swaarste vervolg:

  • Christene word weens hul geloof doodgemaak.
  • Christen-vroue en -meisies word verkrag en seksueel misbruik weens hul geloof.
  • Christene word aangeval, uitgewis en onregverdig daarvan beskuldig dat hulle ander dwing om tot bekering te kom.
  • Christene is die slagoffers van brandstigting en smeerveldtogte wat geweld en diskriminasie aanhits.
  • Vreedsame godsdienstige byeenkomste van Christene word deur gewelddadige groepe en aanvalle ontwrig.
  • Christen-Dalits word weens hul geloof uitgesluit van regstellende aksie deur die regering.

Volgens die verslag word aanvalle en vervolging deur regeringsamptenare en wetstoepassers geïgnoreer en selfs goedgekeur – waaronder deur die nasionale en streeksregerings, polisie en die media – om in die goeie boekies van Indië se magtige Hindutva-organisasies te bly.

Een van die verslag se skrywers, wat anoniem wil bly, sê: “Die omvang van die regeringsamptenare en wetstoepassers se betrokkenheid by die geweld is skokkend; dit vind selfs op grondvlak plaas. Die burokrate, polisie en regters in die howe span openlik saam om hierdie minderheidsgroepe te teister. En die politici, magtigste godsdiensleiers en invloedryke media-eienaars gee te kenne dat hierdie optrede wenslik is.”

Die kerk veg om lewend te bly in Indië, en talle Christene vrees vir hul lewens weens hul geloof. (Foto: Geopende Deure)

Covid-19-pandemie

Die Covid-19-pandemie het die situasie nog verder vererger. Mense is nou meer kwesbaar omdat hulle in hul dorpe ingeperk is en nie kan wegkom nie. Dit is baie moeiliker vir hulle om toegang tot ondersteuning van die wyer gemeenskap te kry of werk te kry, en Christene word dikwels afgeskeep met amptelike noodleniging.

Christene en Moslems word gedurende die huidige Covid-19-krisis geteiken in gekoördineerde veldtogte wat verkeerde inligting versprei. Dit sluit bewerings in dat hulle opsetlik probeer om die virus te versprei en Hindoes deur hul aanbiddingsrituele daarmee besmet.

Verdere bevindings van die verslag

  •  Die veldtog van geweld en intimidasie word erg aangevuur deur nuwe sosialemedia-platforms. Gewelddadige groepe gryp slagoffers se fone en neem die aanvalle dan op, waarna dit op sosiale media geplaas word om ander Hindutva-groepe daaroor in te lig en hul subjektiewe weergawe van die inligting te versprei.
  • Wanneer die hoofstroommedia aanvalle deur gewelddadige groepe hoegenaamd dek, word die oortreders se weergawe dikwels onveranderd herhaal sonder om dit te betwis en weier hulle om met die slagoffers te praat.
  • Die polisie en plaaslike regstrukture weier om enige misdade wat gepleeg word te erken of om enige klagte teen die oortreders aanhangig te maak.
  • Die geweld en vervolging word op regeringsvlak aangemoedig, met die staat wat wette instel om Christene te straf vir “gedwonge bekering” (in praktyk is dit net Christene wat hul godsdiens beoefen).
  • Brandstigting-aanvalle word dikwels uitgevoer op plekke van aanbidding en godsdienstige items.
  • Valse aantygings teen Christene word deur die hoofstroommedia en nuwe media versprei, waaronder bewerings dat Christene die Hindoes opsetlik met Covid-19 besmet.

Die navorsing is uitgevoer deur ʼn LSE-navorsingspan wat in Indië gevestig is. Die data is ingesamel op plekke waar voorvalle van geweld teen Christene of Moslems aangemeld is.

Die verslag bevat ʼn aantal dringende aanbevelings, waaronder die samestelling van ʼn internasionale kommissie om die regte feite te bevestig en die vlakke van geweld en skending van menseregte teen godsdienstige minderheidsgroepe te dokumenteer.

“Die internasionale gemeenskap kan nie langer die gebeure in Indië ignoreer nie. Hulle kan nie meer hul rug draai vir hierdie gruweldade nie. Ons vra vir ʼn deeglike ondersoek van die brutale en sistematiese vervolging van godsdienstige minderheidsgroepe,” sê Jan Gouws, die uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika.

Die Taj Mahal, een van Indië se gewildste toeriste-attraksies, word elke jaar deur duisende toeriste besoek. (Foto: Geopende Deure)

Intussen word ʼn beroep op sosialemedia-maatskappye gedoen om ʼn reeks onmiddellike maatreëls toe te pas, waaronder:

  • Meer moderators om plaaslike kwessies van diskriminasie, teistering en geweld aan te raak.
  • Die verskerping van algoritmes om onmenslike optrede en die aanhitsing van geweld teen godsdienstige minderheidsgroepe in Suid-Asië aan te pak.
  • Die onmiddellike opskorting van rekeninge wat sulke materiaal versprei.
  • “Wat veral skokkend is, is dat hierdie kwessie nie ernstig opgeneem word deur sosialemedia-platforms en maatskappye wat menseregte ondersteun nie,” sê die anonieme medeskrywer van die verslag. “Hulle behoort dit as ʼn baie ernstige situasie te hanteer. Ek dink hulle sou anders gereageer het as Christene in Amerika of Brittanje so vervolg word.”

Die verslag is op 1 Julie 2021 wêreldwyd as die begin van Geopende Deure se Impact India-veldtog uitgereik. Hierdie veldtog se doelwit is om bewustheid te skep oor die situasie van Christene in Indië en om ondersteuning vir hulle te versterk. Vir meer inligting, besoek die Suid-Afrikaanse veldtog se webblad by www.standfortruthindia.co.za.

* Hindutva word vertaal as “Hindoe-heid” en is ʼn vorm van nasionalisme. Dit definieer die Indiese identiteit uitsluitlik in terme van Hindoeïsme en sien alle gelowe en filosofieë wat nie inheems aan Indië is nie (Christenskap, Islam, sekularisme) as “nie-Indiese” indringers in die nasie.

(Grafika: Geopende Deure)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ja wat

Dan moet ons hulle uit ons land ook jaag die is ‘n land met christelike beginsels.

Suzette

Hierdie is oppad na ons toe – tekens klaar daar …

Elize

Ja Suzette ek stem saam met jou. Wonder net hoeveel van ons gaan die stryd end uit voer en by ons geloof hou. Ek haal my hoed af vir almal wat vir hulle Christendom so verniel en vermoor word. God het ‘n spesiale plek vir hierdie mense omdat hulle Hom nie verraai nie

Rosie

En so word die profesiee vervul.

Mariana

Nie die eerste keer en ook nie die laaste keer dat christene so vervolg word nie. Die mensdom is sy grootste eie vyand.