Verwoestende storm eis tientalle lewens

ʼn Kragpaal wat omgeval het by ʼn mark in Alwar, Indië (3 Mei 2018). Foto: Reuters

ʼn Verwoestende sandstorm in die noorde van Indië het reeds tientalle mense se lewens geëis en meer as 100 is beseer.

Die storm het Woensdagnag die state Rajasthan en Uttar Pradesj in Indië getref. Owerhede het Donderdagoggend bevestig meer as 80 mense het reeds gesterf, maar volgens mediaberigte het die dodetal intussen gestyg.

Sky News berig teen Donderdagmiddag het minstens 98 mense in die storm omgekom en 143 is beseer. Die meeste sterftes het in die stad Agra in Uttar Pradesj voorgekom, waar ongeveer 36 mense gesterf het. Nog nege mense is in ander dele van Uttar Pradesj dood, insluitend Bijnaur, Saharanpur en Bareilly.

Die meeste mense is dood toe huise met die inwoners daarin ineengestort het. Sommige mense is deur weerlig getref, terwyl ander onder bome beland het wat omgeval het.

Die beseerdes is almal na staatshospitale gehaas.

The Times of India het bronne van die meteorologiese departement aangehaal wat gesê het reënval van 48 mm is in die Agra-distrik gemeet tussen Woensdag 20:45 en 23:30 (plaaslike tyd). Stormwind van tot 145 km/h het voorgekom. Kragtoevoer in die gebiede wat geraak is, is heeltemal afgesny.

Mense verwyder bome wat omgeval het tydens die storm in Alwar, Indië (3 Mei 2018). Foto: Reuters

Talle inwoners het beskryf hoe die storm verwoesting gesaai het en mense paniekerig probeer vlug het. Shivam Lohia, die eienaar van ʼn hotel in Alwar in Rajasthan, het aan Sky News gesê hy het sy motor agtergelaat en vir net sy lewe gevlug nadat die wind begin het om die motor rond te ruk. “Ek het so ʼn verwoestende storm nog nie in 25 jaar gesien nie. Almal was bang en het gehardloop om skuiling te vind terwyl bome en huise weggewaai is. Dit was ʼn nagmerrie,” het Lohia gesê.

Yogi Adityanath, die hoofminister van Uttar Pradesj, het staatsamptenare opdrag gegee om die rampverligtingswerk te monitor en mediese hulp te verleen aan almal wat dit benodig. Adityanath het ook aangekondig dat die families van die oorledenes tot 400 000 Indiese roepees (ongeveer R75 000) sal ontvang en elk van die beseerdes 50 000 roepees (ongeveer R9 500).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.