Verwoesting ná brand in die Filippyne

Meer as 80 huise is in puin gelê. (Foto: Maria TAN / AFP)

Agt mense, onder wie ses kinders, is dood nadat ’n brand talle huise naby die Filippynse hoofstad Manila verwoes het.

Meer as 80 huise is in puin gelê. Nog drie mense is beseer.

Luidens inligting het die brand Maandag vroegoggend op die tweede verdieping van ’n huis in ’n oorvol informele nedersetting naby Manila ontstaan.

Dit het byna twee uur geneem om die brand te blus, het senior brandweerbeampte Greg Bichayda aan AFP gesê.

Familielede huil ná die brand naby Manila. (Foto: Maria TAN / AFP)

Volgens Bichayda was die slagoffers in hul huise vasgekeer omdat “die brand vinnig versprei het”.

“Die huise is ​​van ligte materiaal aanmekaargesit. Die mense was geskok toe die brand uitbreek,” het Bichayda gesê. “Ons stasie is eintlik naby, maar hulle kon ons nie dadelik bel nie.”

’n Ondersoek is intussen gelas om die oorsaak van die brand te bepaal.

Meer as 13 miljoen mense woon in die digbevolkte hoofstad, met tienduisende in oorvol krotbuurte waar brande algemeen voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.