Verwoesting ná ontploffings by militêre basis

‘n Rookwolk ná ’n reeks ontploffings by ’n militêre basis in Ekwatoriaal-Guinea. (Foto: TVGE / AFP)

Minstens 30 mense is dood en 600 ander beseer tydens ’n reeks ontploffings by ’n militêre basis in Ekwatoriaal-Guinea.

’n Reeks van vier ontploffings het Sondag by die Nkoa Ntoma- militêre basis aan die buitewyke van Bata, ʼn hawestad in Ekwatoriaal-Guinea, plaasgevind. Die basis huisves spesiale magte en hul gesinne. Talle huise is gedurende die ontploffings vernietig.

Dit word verwag dat die dodetal kan styg met talle mense wat nog onder die puin vasgekeer is.

Teodoro Obiang Nguema, president van Ekwatoriaal-Guinea, sê die ontploffings is veroorsaak deur plaaslike boere wat stoppellande brand sowel as “agterlosigheid” met die stoor van dinamiet en ammunisie.

“Die stad Bata is die slagoffer van nalatigheid deur die span wat toesig hou oor die stoor van dinamiet, plofstof en ammunisie,” het die president gesê. “Dit het aan die brand geslaan as gevolg van die smeulende vure wat veroorsaak is deur boere wat stoppellande brand, wat uiteindelik ’n reeks ontploffings veroorsaak het.”

‘n Beseerde man word bygestaan ná die ontploffings in Ekwatoriaal-Guinea. (Foto: TVGE / AFP)

Die ontploffings het groot skade tot gevolg gehad.

Die ministerie van verdediging het gesê swaar kaliber ammunisie het ontplof. Die ontploffing het skokgolwe veroorsaak wat talle huise in die omgewing vernietig het.

“My oom, ’n offisier by die basis, ​​het gebel om te sê dat hy vanoggend die liggame van vyf lede van sy familie gevind het, wat heeltemal verkool het,” het ’n inwoner van Bata Maandag aan AFP gesê.

’n Ander inwoner het telefonies aan AFP gesê hulle het Sondagaand nie ’n oog toegemaak nie. “Die huise het die hele nag gebrand en ons het aanhoudend klein ontploffings gehoor.

“Niemand wat in ’n radius van twee tot vier kilometer van die ontploffings woon, kon terugkeer huis toe nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anton ·

Ek moes die artikel lees om te sien waar die plek is. Dog dis dalk die nuwe naam vir Putsonderwater :-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.