Verwyte oor skending van Paas-skietstilstand in Oekraïne

Russiese soldaatTen spyte van ‘n ooreenkoms tussen onder meer die Oekraïne, Rusland, die VSA en die Europese Unie oor ‘n “skietstilstand” in die ooste van die Oekraïne, vlieg die verwyte oor wie die ooreenkoms sou geskend het.

Ingevolge die ooreenkoms sou die opstandelinge die geboue wat hulle beset, ontruim en van hul wapens afstand doen. Dit het na wat berig word nie gebeur nie. Tog het Rusland die regering van die Oekraïne beskuldig van ‘n “onheilige” skending van die ooreenkoms wat oor die Paasnaweek in werking getree het, nadat skietgevegte in die stad Slavjansk losgebars het. Drie mense is dood in die skietgevegte. Die stad word deur die rebelle beheer. Die Oekraïne sê hy het bewyse dat die skietery ontstaan het toe rebelle hulleself as regeringsmagte voorgedoen en ander partye uitgelok het.

Intussen hou Rusland vol dat sy troepe-sametrekking op die grens met die Oekraïne vir selfbeskerming is, maar laat steeds blyk dat hy nie sal toelaat dat etniese Russie buite sy grense die kort lootjie trek nie.

Pres. Wladimir Poetin van Rusland het die naweek in ‘n TV-gesprek laat blyk wetgewing word oorweeg om etniese Russe in die voormalige Sowjet-state die opsie te bied om ook Russiese paspoorte en identiteitsboekies te bekom. Op ‘n vraag of hy ook sy oog het op Alaska, wat voorheen aan Rusland behoort het en vir ‘n appel en ‘n ei aan die VSA verkoop is, het hy egter aangedui dié gebied is te koud, en koue het Rusland reeds genoeg.

Intussen het die VSA aangedui dat hy bewyse het dat die misterieuse “groen soldate” in die ooste van die Oekraïne inderdaad Russiese soldate is. Foto’s is ook as bewyse aan joernaliste oorhandig. Die VSA beskuldig hierdie soldate daarvan dat hulle die opstand aanhits.

Vise-president Joe Bidden van die VSA het Maandag na die Oekraïne vertrek, en sal onder meer samesprekings voer oor hoe die internasionale gemeenskap kan help met die stabilisasie van die land. Oekraïne hou op 25 Mei sy presidentsverkiesing. Intussen toon ‘n Rasmussen-peiling aan dat 58 persent van die Amerikaanse kiesers gekant is daarteen dat hul land verder by die situasie in die Oekraïne ingesuig word.

Hoewel van die presidentskandidate geluide maak wat waarnemers met Nazisme vergelyk, lyk dit of die meeste ernstige aanspraakmakers groter outonomie vir gebiede met groot Russiese bevolkings in die oog het. Dit laat die vermoede ontstaan dat die opstandelinge, wat formeel dieselfde eis, in werklikheid hoop dat hul aanstigting tot Russiese ingryping en die uiteindelike anneksasie van dele van die Oekraïne sal lei.

* Die Amerikaanse Kongres het onlangs ‘n petisie vir die teruggee van Alaska aan Rusland van die Withuis se webwerf verwyder voor die keerdatum van 20 April bereik is. Die petisie het toe reeds meer as 42 000 stemme gehad. ‘n Petisie op die Withuis se webwerf moet minstens 100 000 stemme kry voor die regering amptelik daarop reageer.

Bronne: Trouw, De Standaard, Rasmussen

Foto: Een van die foto’s wat die VSA uitgereik het en wat glo bewys Russiese soldate is binne die Oekraïne betrokke. New York Times

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.