Video: 2 dood toe pendulum by pretpark in helfte breek

‘n Skermgreep uit die video.

Twee mense is dood en talle beseer toe ʼn gewilde pendulum-toestel Sondag by ʼn pretpark in Indië in twee gebreek en met insittendes na die grond getuimel het.

The Times of India berig Manali Rajvadi (24) en Mohammed Zahid Momin (22) is dood nadat die rit, bekend as Discovery, by die Kankaria-pretpark in Ahmedabad in die staat Goedjarat deels noodlottig beëindig is terwyl insittendes aan die pendulum se waentjie vasgegordel was.

Talle mense het ernstige beserings in die voorval opgedoen toe een van die pendulum se kabels omstreeks 17:40 gebreek het en die waentjie sowat ses meter in die lug was.

In ʼn video van die voorval wat sedertdien op sosiale media versprei word, kan daar duidelik gesien word hoe die onderste deel van die pendulum loskom en met insittendes val.

Volgens New Delhi Television (NDTV) het die waentjie met 30 insittendes grond toe getuimel. Daar is 32 sitplekke vir die rit.

NDTV berig dat daar 27 mense in die voorval beseer is onder wie 15 kritiek. Die beseerdes is na nabygeleë hospitale gehaas.

Die plaaslike polisie sal ondersoek instel na die oorsaak van die voorval.

JUEGO MECÁNICO EN LA #INDIA SE ROMPE EN DOS; SE REGISTRAN 3 MUERTOS Y 27 HERIDOS.

JUEGO MECÁNICO EN LA #INDIA SE ROMPE EN DOS; SE REGISTRAN 3 MUERTOS Y 27 HERIDOS.Trágico accidente se registró en el parque de diversiones 'Kankaria', ubicado en la ciudad de Ahmedabad, cuando un juego mecánico en pleno funcionamiento se partió en dos, provocando que colapsara.En un video captado por testigos se observa como la estructura se viene abajo con 30 personas abordo, de las cuales 3 perdieron la vida y 27 resultaron heridas.Bomberos realizaron las investigaciones e informaron que la causa principal del accidente fue que en un cable en la polea se rompió segundos después del arranque de la maquina.

Posted by Campeche No te Calles on Monday, July 15, 2019

 

Klik hier as die video nie direk in jou webblaaier speel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Angel ·

Noem my maar n bang gat , maar ek is regtig bang vir hierdie ritte , Dit het al baie gebeur dat mense beseer word op hierdie pretparke

Rooi ·

Ek het eerste handse ondervinding. Ek was so vreesbevange ek sal nooit weer op sulke goed klim nie. Twee van die sitplekke het los gekom terwyl daardie groot wiel gedraai het. Ons was vir ‘n volle halfuur omtrent 20 meter in die lig. Dit was die langste halfuur wat ek al ooit beleef het

Valerie ·

“Deels noodlottig beëindig”? Dit maak geen sin nie. Hoeveel meer moes dan nou sterf voordat dit dan noodlottig gestaak kon word? Almal?

Gawie Louw ·

Ja nee dit is nie vir my nie. Het nog nooit belang gestel om op die goed te ry nie.
RIP die twee wat gesterf het.

A Mac ·

Goed, daar is mense dood en dis ‘n tragedie. Maar vergelyk nou hoeveel mense sterf of word beseer op die tipe pretpark-ritte en hoeveel sterf of word beseer op ons paaie? Dan moet ons mos nou almal sê “Nee wat, kar/bus/lorrie gaan ek nie meer ry nie!”. Baie mense is bang vir ‘n pretpark-rit maar almal het die moed om deesdae op ons paaie te waag met die rekord wat ons deesdae het.

Tina du Toit ·

Ek is so bang vir die goed. Ek kan nie help om elke keer aan die fliek Final destination te dink nie. My man wil my altyd dwing om saam te gaan, maar dan wip ek my en stap weg. LOL, al hoe ek gaan weg kom van die goed af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.