Video: Beer beseer vier in Japannese stad

Beeldmateriaal wys hoe die beer in die stad se strate ronddwaal en mense die skrik op die lyf jaag (Foto: Skermskoot)

ʼn Bruinbeer het Vrydag die strate van die Japannese stad Sapporo ingevaar en vier mense in die proses beseer. Dié amokmaker het chaos in die stad veroorsaak en moes noodgedwonge later uitgesit word.

Beeldmateriaal wys hoe die beer in die stad se strate ronddwaal en mense die skrik op die lyf jaag. In ʼn video van die voorval wat op sosiale media gedeel is, kan gesien word hoe die beer ʼn besige pad oorsteek en daarna aan die hekke van ʼn militêre kaserne klou, terwyl vreesbevange soldate uitmekaarspat. Een van dié soldate is in die proses beseer.

In die beeldmateriaal is dit duidelik hoe die beer iemand van agter af aanval en beseer. Dié persoon word later met ʼn draagbaar weggedra.

Plaaslike skole moes noodgedwonge hul deure sluit. Verskeie vlugte van klein plaaslike lughawens moes ook gekanselleer word.

Katsunobu Kato, woordvoerder van die regering, het vroeër gesê mense in die stad moet op hul hoede wees.

“Die beer het altesaam vier mense, onder wie een weermaglid, aangeval en beseer,” het Kato bevestig.

Amptenare van Sapporo, die Hokkaido-polisie, ʼn plaaslike jagvereniging en ander toepaslike agentskappe is na die toneel ontbied om die beer te vang en indien nodig, uit te sit. Hulle was genoop om hom dood te skiet.

Drie van die slagoffers wat beseer is, was onderskeidelik in hul 40’s, 70’s en 80’s. Daar is geen besonderhede oor die vierde slagoffer nie.

Asiatiese swartbere kom in groot dele van Japan voor, waaronder die hoofeiland van die land. Bruinbere kom in die Hokkaido-omgewing en in die verre noordelike gedeeltes van Japan voor.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elinette

Was dit nou nodig om die beer dood te skiet? Kon hy/sy nie net verdoof geword het en in sy/haar natuurlike habitat vrygelaat word nie? Dit gebeur al hoe meer dat wilde diere in dorpe/stede in beweeg? Hoekom? Want die MENS beweeg in HULLE natuurlike habitat en gebiede in en ontbos/verstedelik so ver hulle gaan.

Ben

Is Japan ñ 1 ste werêld ????
Of is hulle ook soos SA. Gewees??
Hulle kon mos maklik die beer verdoof het. Dit was dan by die army kamp.

petro

ARME DIER!

Sandra

Mens kan sien die beer is heel verskrik. Selfs bang. Ek kon nie sien hoe hy die persoon van agter af aanval nie. Die beer het sommer net “randomly” te voorskyn gekom. Dis nogal snaaks. Hulle se nie hoe hy daar gekom het nie. Dit is omdat mense se geboue en huise die diere se grond oorvat dat hulle misplaas is. Hy is darem nou op ‘n beter plek.

Misky

Ek dink ook hulle kon hom verdoof het en was nie nodig vir doodskiet nie. En daarna kon daai een weermaglid nuwe onderklere gaan aantrek het…..