Video: Beer en haar kleintjies koel af in swembad

’n Video van ’n beer wat saam met haar kleintjies in ʼn swembad in Coquitlam in Kanada swem, het vir groot vermaak op sosiale media gesorg (Foto: Skermskoot)

’n Video van ’n beer wat saam met haar kleintjies in ʼn swembad in Coquitlam in Kanada swem, het vir groot vermaak op sosiale media gesorg. Dié beer-gesin wou afkoel ten tyde van die hittegolf wat dié stad in ʼn wurggreep het.

Dele van Kanada ervaar tans temperature van hoog in die 30   ̊C.

In die video wat op sosiale media versprei word, kan gesien word hoe die ma-beer en haar twee kleintjies by die swembad baljaar. Die video wys ook hoe een van die kleintjies in die swembad spring en rondswem. Die ma-beer en haar ander kleintjie het net hul pote in die water gedruk.

Die Daily Hive Vancouver het berig dié beer-gesin het Vrydag omstreeks 14:00 hul verskyning by Lyle Torgerson se gesin se swembad gemaak.

Torgerson het die bere se manewales in die swembad op kamera vasgevang. Hy het die video op Twitter gelaai en dit het vandaar soos ʼn veldbrand versprei.

Torgerson het aan Tri-City News gesê die bere het sowat ʼn uur lank in die water geplas.

Volgens dié nuusbron was dit Sondag 37 °C en die stad gaan tans onder ʼn erge hittegolf gebuk.

Environment Canada, ʼn webtuiste wat weerwaarskuwings uitreik, het altesaam 45 hittegolfwaarskuwings vir die week vir Brits-Kolombië, die gebied waar Coquitlam geleë is, uitgereik.

Volgens die Daily Hive is skole in dié gebied gesluit weens die erge hitte. Kinders is aangeraai om tuis te bly omdat talle skole nie oor voldoende lugverkoelingstelsels beskik nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Toffie ·

Kostelik, lyk my ma-bere sukkel nes ons om die kleingoed uit die water te kry.

Tiptol ·

Was vir my bietjie ontstellend toe die kleintjie so sukkel om uit te kom.

Toy ·

Dis so oulik, sal hom sommer druk. Het vir my gelyk of ma en die ander babatjie hom nie wou laat uitklim nie.

Sandra ·

Moeder so oulik. Dis wonderlik hoe die ma besorg was oor die kleintjie. Die ander een het seker gedink sy boetie of sussie is so braaf om te swem in die groot poel water.

Chantel ·

Kyk ek wil nou op niemand se battery … nie, maar ek sien nie dat die ma en ander kleintjie swem nie, eerder dat sy verwoed sukkel om hom uit te kry. Kyk hoe roei sy met haar een poot om hom nader te kry. Ek sê maar net..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.