Video: Beleef ons nou meer vulkaniese uitbarstings?

Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

Die wêreld het onlangs kennis geneem van vulkaniese aktiwiteite op Ysland en daarna in Japan. In Japan se geval is minstens 31 mense dood toe die Ontake-vulkaan sonder waarskuwing uitgebars het. Ongeveer 250 mense was aanvanklik teen die hange vasgekeer. Klik hier om meer te lees.

Volgens ‘n interaktiewe kaart van vulkane is daar egter nou sowat 21 vulkane wêreldwyd besig om uit te bars. Waarskuwings is vir nog vier vulkane uitgereik.

Die aard van baie van die uitbarstings en die vulkane se ligging ten opsigte van vlugroetes maak dat hulle kwalik die nuus haal. Baie inwoners is gewoond om langs aktiewe vulkane te woon, selfs tydens taamlike groot uitbarstings soos Berg Etna op Sisilië.

Op 1 Oktober is dit presies 18 jaar sedert Mount St Helens in die Amerikaanse deelstaat, Washington, “ontplof” het tydens ’n uitbarsting. Dit is van 23 September 2004 voorafgegaan deur ’n rits ligte aardbewings sowat ’n kilometer onder die oppervlak.

Sedert die jongste vulkaniese aktiwiteite op Ysland begin het, is die omgewing reeds deur sowat 40 aardbewings van 4,5 of sterker op die momentmagnitudeskaal geskud. Daar gaan sedert die aktiwiteite begin het baie selde ’n periode van 24 uur verby wat daar nie minstens een sterk aardbewing was nie. Die caldera van die Bárðarbunga-vulkaan het al sowat 29 meter gesak sedert die uitbarstings begin het. Van die as is reeds in Parys, Frankryk, bemerk.
Bronne: USGS, Euronews, Iceland Geology, Volcano Discovery,

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.