Die dodetal in ‘n aardbewing wat die suidweste van China Sondag getref het, het tot 381 gestyg met nog 181 wat vermis word. In een administratiewe streek wat geraak is, is daar meer as 1 800 mense beseer, 12 000 huise het ingestort, en 30 000 huise is beskadig.
Die Amerikaanse Geologiese Opnamesentrum het die aardbewing, waarvan die episentrum vlakkerig sowat 10 km ondergronds was, op 6,1 op die oombliklike grootheidskaal (momentmagnetitudeskaal, of M-skaal) gemeet. China het na berig word, die aardbewing 6,5 op die Richterskaal gemeet, maar die episentrum was naby aan ‘n groot verskuiwingsvlak waar die Richterskaal nie goed werk nie.
Aardbewings in hierdie omgewing, selfs betreklik geringe aardbewings, eis dikwels baie lewens weens die swak gehalte bouwerk.
Honderde reddingswerkers, tente en ander noodtoerusting is na die ramptoneel gestuur.
Bronne: USGS, RT.com
https://www.youtube.com/watch?v=LQHYaMNuBgM