Video: Duur biefstuk in 3D-vorm gedruk

‘n Wagyu-biefstuk ter illustrasie. (Foto: Meji Bunka Institue/Twitter)

Wetenskaplikes van Japan het die eerste 3D-gedrukte Wagyu-biefstuk gemaak wat spiere, vet en bloedvate bevat. Dié gedrukte biefstuk is egter nog nie eetbaar nie.

Die span van die Osaka-universiteit in Japan het glo die stamselle van Wagyu-koeie geïsoleer om die komplekse tekstuur van dié beesvleis na te maak.

Wagyu-vleis is buitengewoon sag in vergelyking met ander vleis en het ʼn marmeragtige voorkoms weens sy hoë vetinhoud. Omdat dit so uitsonderlik is, kan vliesliefhebbers tot R1 200 per kilogram vir ʼn gesogte stukkie biefstuk opdok.

“Onder die regte laboratoriumomstandighede kan die stamselle tot so ʼn mate gemanipuleer word dat dit in elke tipe sel ontwikkel wat nodig is om die gekweekte vleis te produseer,” het Dong-Hee Kang, hoofnavorser, gesê.

Die individuele vesels, waaronder die spiere, vet en bloedvate, is met behulp van ʼn bioafdruk uit hierdie selle vervaardig. Die vesels is toe in 3D-skanderingstegnologie gerangskik om die struktuur van regte Wagyu-vleis te produseer.

Die gedrukte biefstuk bevat spiere, vet en bloedvate. (Foto: Skermskoot uit die navorsing)

Kang het egter gesê die biefstuk is nog nie eetbaar nie, hoewel eetbare gelatien en gellangom gebruik is om die vesels te bind.

Die navorsers hoop om dié tegnologie te ontwikkel sodat dit ʼn omgewingsvriendelike en volhoubare metode vir alternatiewe vleisprodukte kan wees.

“Deur hierdie tegnologie te verbeter, is dit moontlik om nie net ingewikkelde vleisstrukture te produseer nie, maar subtiele aanpassings aan die vet- en spierinhoud van die vleis te maak,” het Michiya Matsusaki, een van die navorsers, gesê.

“Die biefstuk kan dan gekweek word met elke klant se smaak- en gesondheidsvoorkeure in gedagte.”

Die navorsers se bevindinge het verlede week in die joernaal Nature Communications verskyn.

Hoewel die wetenskaplikes van Japan daarin geslaag het om die wêreld se eerste 3D-Wagyu-biefstuk te produseer, is ander pogings reeds aangewend om vleis deur middel van hierdie metode na te maak.

In Februarie vanjaar het Aleph Farms en ʼn tegnikon in Israel in ʼn gesamentlik poging ʼn Rib-oog-biefstuk met regte koei-selle gekweek. Soortgelyke pogings is ook al in Spanje aangedurf.

Die video hieronder wys hoe die eerste 3D-Wagyu-biefstuk gedruk is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Charles ·

R 1 200 per kilogram!! Vergeet dit, dan hou ek by ʼn sappige SA biefstuk!!!

Rudolph ·

Verkies jy eerder om ‘n weerlose, onskuldige dier te laat ly en sterf vir jou vleisie?

JohanR ·

Hoop ek hoef nooit die op ‘n braaivleis te gooi nie! Kry maar nog vir my ‘n lekker lamb-tjop, boerewors en T-bone daai by my gunstelling slaghuis, saam met pap en sous……lekker!

Rudolph ·

Beslis gesonder vir die dier wat tans ly en sterf vir jou

Frederik C ·

Geen Wagyu vleis is eetbaar nie………………………………. nie met my finansies nie.

H.A. ·

Dit is van al die gepeuter met alles in die labs dat ons vandag sukkel met covids.

Pietie ·

Ek gril my morsdood het die mensdom heeltemal mal geword. Ag nee yukkie yuk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.