Video: Duurste huis in Amerika verkoop

Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

‘n Video van die strandhuis volg onderaan die berig. ʼn Strandhuis aan die ooskus van Amerika is teen ʼn rekordbedrag van $120 miljoen (R1.25 miljard) verkoop.

Copper Beech Farm in Greenwich, Connecticut, se verkooptransaksie is Vrydag gefinaliseer, het die Greenwich Time berig. “Dit is die duurste eiendom wat nog ooit in Amerika verkoop is,” het David Ogilvy, eiendomsagent, aan die koerant gesê.

Die huis is verlede jaar in Mei te koop aangebied vir $190 miljoen.

Die huis is oorspronklik in 1898 opgerig in ʼn Frans-Renaissance-boustyl. Die 1 250 vierkante meter huis, op 20 hektaar grond, het 12 slaapkamers, nege badkamers en 10 kaggels. Daar is ook ʼn biblioteek, solarium, wynkelder en ʼn vleuel waar personeel kan tuisgaan.

Die eiendom sluit twee eilande, nagenoeg 1.5 km strand, ʼn tennisbaan, swembad en borrelbad in. Die huis bied glo ook ʼn asemrowende uitsig oor die Atlantiese Oseaan, aldus Christie’s International Real Estate.

Die koper se naam is nie bekend gemaak nie.

Ogilvy sê dit is die duurste enkelgesinhuis wat nog ooit in Amerika verkoop is. Die vorige rekord was $117.5 miljoen vir ʼn huis in Kalifornië. Die Broken O Ranch in Montana is in November 2012 vir $132.5 miljoen verkoop, maar aangesien dit op 50 000 hektaar grond geleë is, is dit nie as ʼn enkelgesinhuis beskou nie. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.