Video: Een dood, twee vermis na warmlugballon aan die brand slaan

Foto: Fox News

Foto: Fox News

Die video volg onderaan die berig. Een man is dood en twee persone word vermis nadat ʼn warmlugballon tydens ʼn lugballonfees in Virginia, Amerika aan die brand geslaan en neergestort het.

Die drie persone was Vrydagaand omstreeks 20:00 in ʼn warmlugballon toe dit vermoedelik ʼn kragdraad getref en aan die brand geslaan het.

Ooggetuies het beskryf hoe die persone om hulp geskree het voordat die ballon neergestort het.

“Die polisie het een man se liggaam kort ná middernag in ʼn woud opgespoor,” het Corinne Geller, woordvoerder van die polisie in Virginia, Saterdag gesê, berig Fox News.

Geller sê die polisie is Saterdag steeds op soek na die twee persone wat vermoedelik in die ongeluk gesterf het. Ooggetuies het glo gesê twee van die insittendes het uit die mandjie geval of gespring voordat die ballon neergestort het.

Die ballon en die mandjie is ook nog nie opgespoor nie.

Die lugballonfees sou amptelik eers Saterdag begin het, maar ʼn spesiale aanvangsgeleentheid is Vrydagaand vir ʼn beperkte aantal persone gehou. Organiseerders het die res van die fees gekanselleer.

Bron: CNN, Fox News, ABC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.