[Video] Egpaar op hartroerende foto uiteindelik herenig

Wolfram en Anita Gottschalk word herenig. Foto: Facebook

Wolfram en Anita Gottschalk word herenig. Foto: Facebook

Die bejaarde egpaar van Kanada wat nie in dieselfde versorgingsoord opgeneem kon word nie, is uiteindelik herenig. Dié twee se verhaal het wêreldwyd opslae gemaak.

Maroela Media het vroeër berig Ashley Bartyik, kleindogter van Wolfram (83) en Anita (81) Gottschalk, het ʼn hartroerende foto op Facebook geplaas van die egpaar wat mekaar huilend groet omdat hulle ná 62 jaar van getroude lewe nie in dieselfde versorgingsoord opgeneem kon word nie.

Bartyik het vertel dat haar ouma Anita in ʼn oord in Surrey in Brits-Columbië geplaas is, maar dat haar oupa nie na dieselfde oord verskuif kon word nie weens “agterstande en vertragings” in die land se gesondheidstelsel. Dit het beteken dat die familie elke tweede dag ver moes ry om vir Wolfram te neem om by Anita te kuier.

Die foto en verhaal van die Gottschalk-egpaar het soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei en daar is internasionaal oor die egpaar se penarie berig.

Bartyik het Vrydag ʼn foto en video op Facebook gedeel van haar ouma en oupa wat uiteindelik na nege maande weer herenig is. “Wolfram is uiteindelik na dieselfde fasiliteit as Anita verskuif by die tehuis Morgan Heights. Die hereniging het ons almal in trane gehad. Nou kan hulle die jare wat hulle oor het onder dieselfde dak deurbring en ons kan nie méér dankbaar wees nie,” het Bartyik gesê.

Sy het Fraser Health-gesondheidsdienste bedank wat die hereniging moontlik gemaak het, asook almal vir hul gebede en boodskappe van ondersteuning. Bartyik het gesê die familie sal hulle steeds daarvoor beywer om pare te herenig wat weens die land se gesondheidstelsel daarvan weerhou word om by mekaar te wees.

Posted by Ashley Kaila B on Friday, September 23, 2016

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Amelia ·

My pa se tannie en oom is so uit mekaar uit geruk a.g.v kinders en stief kinders. hul albei was in hul 80s gewees. na 3 maande wat hul van mekaar af weg was is die een oorlede. n jaar later die ander. hulle het nooit die oom gese dat sy vrou dood is nie… maak my hart sommer weer seer..
:(

Sune van Heerden ·

Dagsê Cherokee

Ek kan bevestig die video is definitief onderaan die berig. Dit wil voorkom of die video ongelukkig nie op sommige slimfone wys nie.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Cherokee ·

Suné, ek gebruik nie ‘n slimfoon nie maar ‘n 24″ skerm op rekenaar. En ek kan bevestig dat die video nie hier was toe ek gister hier deur geblaai het nie maar defnislis is hier nòu ‘n video :-)
Dankie vir die terugvoer.

Delia ·

Dankie MM dat julle ons op hoogte hiervan gehou het. Ek het die petisie onderteken en het gewonder of dit sou help. So bly hulle is nou saam!

Woordeloos ·

Ek het Junie na bykans 50 jaar my vrou verloor en kan net weet wat hierdie samesyn vir die twee beteken.
Ek is woordeloos.

Tussen die lyne ·

Ai Woordeloos, u kommentaar ruk my skoon aan die hart.

KarooKlong ·

Hartroerend fantasties!
Dankie ook aan Maroela vir die opvolg van hierdie verhaal.

Theresa B ·

Dit is nou baie goeie nuus. Die ou mensies kan nou ontspan en elke sekonde van die dag saam wees. Die 9 maande van mekaar af weg, was regtig onnodig. Ook was dit onnodig om hulle deur sulke trauma te sit op hul ouderdom. Enige iets kon in die 9 maande gebeur het. Sies vir die gesondheidstelsel. Ek hoop julle kom nou bietjie by in die lewe. Duidelik verstaan julle nie hoe werk sulke oumensies se koppe nie. Prys die Here hulle is herenig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.