Die bejaarde egpaar van Kanada wat nie in dieselfde versorgingsoord opgeneem kon word nie, is uiteindelik herenig. Dié twee se verhaal het wêreldwyd opslae gemaak.
Maroela Media het vroeër berig Ashley Bartyik, kleindogter van Wolfram (83) en Anita (81) Gottschalk, het ʼn hartroerende foto op Facebook geplaas van die egpaar wat mekaar huilend groet omdat hulle ná 62 jaar van getroude lewe nie in dieselfde versorgingsoord opgeneem kon word nie.
Bartyik het vertel dat haar ouma Anita in ʼn oord in Surrey in Brits-Columbië geplaas is, maar dat haar oupa nie na dieselfde oord verskuif kon word nie weens “agterstande en vertragings” in die land se gesondheidstelsel. Dit het beteken dat die familie elke tweede dag ver moes ry om vir Wolfram te neem om by Anita te kuier.
Die foto en verhaal van die Gottschalk-egpaar het soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei en daar is internasionaal oor die egpaar se penarie berig.
Bartyik het Vrydag ʼn foto en video op Facebook gedeel van haar ouma en oupa wat uiteindelik na nege maande weer herenig is. “Wolfram is uiteindelik na dieselfde fasiliteit as Anita verskuif by die tehuis Morgan Heights. Die hereniging het ons almal in trane gehad. Nou kan hulle die jare wat hulle oor het onder dieselfde dak deurbring en ons kan nie méér dankbaar wees nie,” het Bartyik gesê.
Sy het Fraser Health-gesondheidsdienste bedank wat die hereniging moontlik gemaak het, asook almal vir hul gebede en boodskappe van ondersteuning. Bartyik het gesê die familie sal hulle steeds daarvoor beywer om pare te herenig wat weens die land se gesondheidstelsel daarvan weerhou word om by mekaar te wees.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
12 Kommentare
Baie gelukkige einde!
My pa se tannie en oom is so uit mekaar uit geruk a.g.v kinders en stief kinders. hul albei was in hul 80s gewees. na 3 maande wat hul van mekaar af weg was is die een oorlede. n jaar later die ander. hulle het nooit die oom gese dat sy vrou dood is nie… maak my hart sommer weer seer..
:(
Video sê julle? Daar’s g’n video nie.
Dankie MM dat julle ons op hoogte hiervan gehou het. Ek het die petisie onderteken en het gewonder of dit sou help. So bly hulle is nou saam!
Ek het Junie na bykans 50 jaar my vrou verloor en kan net weet wat hierdie samesyn vir die twee beteken.
Ek is woordeloos.