Video: Elon Musk wil verkeersknope verlig met hoëspoed-tonnel

Dié eerste toetsrit van die projek, genaamd Loop, is vandeesweek deur Musk se maatskappy, The Boring Company onderneem. Dié toetstonnel is gebou tussen SpaceX, Musk se ruimtemaatskappy, en loop vir 3 km ondergronds na ‘n ander maatskappy, in Hawthorne, Kalifornië in Amerika. Die wiele van ‘n elektriese motor wat homself bestuur trek terug en dan ry dit op ‘n spoor. Foto: The Boring Company

Indien die ruimte-entrepreneur Elon Musk sy sin kry, sal mense in die toekoms ondergronds teen 241 km/h in tonnels kan ry met elektriese motors wat hulself bestuur.

Dit sal volgens hom die oplossing wees vir verkeersprobleme, met tot 4 000 motors wat op een slag foutloos in so ʼn tonnel kan blits.

Die eerste toetsrit van die projek, genaamd Loop, is vandeesweek deur Musk se maatskappy, The Boring Company, onderneem. Dié toetstonnel is gebou tussen SpaceX, Musk se ruimtemaatskappy, en strek 3 km ver ondergronds na ʼn ander maatskappy, in Hawthorne, Kalifornië in die VSA.

Die idee is dat ʼn mens se elektriese motor wat homself kan bestuur van die Loop gebruik maak. Die motor word met ʼn hyser onder die grond ingeneem, en op ʼn spoor geplaas. Die motor se wiele word teruggetrek wat hom verander in een wat op spore kan ry en dan maklik weer op die pad. Dit is byna soos gidswiele wat op die spore gebruik word.

Die motor blits dan voort in die baie nou tonnel, wat só gebou is om koste te bespaar. Aan die ander kant lig ʼn hyser weer die motor na ʼn ander tonnel, of weer op na die gewone pad.

Die eerste rit met ʼn Tesla X het ʼn spoed van tussen 64 km/h en 80 km/h behaal. Volgens The Boring Company is daar byna geen kanse vir ʼn brand nie, danksy die unieke stelsel en die aard van die motors. Musk het gesê dit is soos om op ʼn driedimensionale vervoerstelsel te reis.

‘n Voorstelling van die Hyperloop TT wat teen ‘n maksimumspoed van 1223 km/h onder en bo die grond sal kan beweeg, maar steeds binne-in ‘n tonnel moet bly. Voorstelling: Hyperloop TT

Hy het op Twitter gesê daar word beplan om fietsryers en voetgangers ook in dié stelsel te vervoer.

Die Loop is die voorloper tot die Hyperloop wat selfs ʼn nog vinniger vervoerstelsel is. Die Hyperloop TT sal teen ʼn maksimumspoed van 1 223 km/h onder en bo die grond kan beweeg, maar steeds binne-in ʼn tonnel moet bly.  Hyperloop Transportation Technologies is nie Musk se maatskappy nie, maar die Hyperloop TT was sy idee, waaraan meer as een maatskappy nou werk.

Volgens dié mediapakket bestaan die voertuie uit ʼn kapsule wat in ʼn laedruk-omgewing in die tonnel sal voortsnel. Die kapsule sweef op wrywinglose magnetiese kussings, wat ontneem is van byna alle lug. Die voertuie word aangedryf deur ʼn liniêre induksiemotor, elektromagnetiese en herlaaibare batterye. Die voertuie sal geen gasse uitlaat nie en stil wees en die hele ontwerp is daarop gebaseer om wrywing en sleurkrag uit te skakel.

Die idee is om uiteindelik 160 000 passasiers per dag só in die VSA te vervoer, volgens Hyperloop TT, wat reeds besig is om die prototipe te toets. Richard Branson ontwikkel ook ʼn Virgin Hyperloop.

  • Elsabé Brits is ʼn vryskut-wetenskapjoernalis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Stephen Namibia ·

4000 Motors wat foutloos deur die tonnel blits tot jy n Taxi in die mix gooi!

Johan ·

Hoe lank gaan dit vat om 4000 motors op en af the laai?Dink hy gaan iewers bottelnek.Nog steeds trots om te sien wat x witman van SA oorsee doen.

Reinhardt ·

Presies wat ek gedink het, ek dink hy los die simptoom op, nie die oorsaak nie. Die oorsaak van verkeer is (onder andere) slegte stadsbeplanning. Maar steeds fantasties.

PS. Weet nie hoekom dit relevant is dat jy hoef te noem dat hy n wit man van SA is nie. (Hys lankal nie meer n Suid-Afrikaner nie)

Gemaskerde Sopbeen ·

En nou moet Mnr Musk nog net besluit om AL die karre aan mekaar vas te maak, en dan net die voorste een se elektriese motors te gebruik om al die ander karre deur die tonnel te sleep…..en op sekere plekke te stop sodat mense kan op en af klim…..Nou waar het ek sal so ‘n sisteem belee….fff???

Reinhardt ·

Ek dink dat sal die uiteindelike idee wees. Almal gaan n tipe “pod” he waarin jy inklim, en dan haak dit vas aan ander pods om n trein te maak. Alles natuurlik selfgedrewe. Die toekoms is inderdaad opwindend!

kolla ·

Kan nie sien hoe dit ‘n verbetering kan wees op ‘n goed-geoliede snel treindiens nie. Die trein het die voordeel dat dit baie mense op een slag kan vervoer, geen verkeersknope aan die eindpunt en geen parkeerprobleme vir motors aan die eindpunt. Moet eerder aan idees dink om ‘n bestaande stelsel soos die trein te verbeter, bv. om die opklim en afklim prosedure/sisteem te verbeter.

John ·

Elon, ongelukkig is nie almal so slim soos jy nie, al glo ons so volgens die Human Right Watch, maar moet ons nie ondergronds inlaat waar ons nie ge-watch word nie… Gou sal human right op die selfwerksame karretjies afdwing word en met een human wrong…
Ons hoop die tonnel loop nie te diep nie sodat daar ingeboor kan word om die arme slim sieletjie te red…

bosluis ·

Dit mag wonderlike tegnologie wees, maar so waar, vir my kry jy nie in daai tonnel nie! Ek sal dood neer val van ente vrees!

My Jinne! ·

Dis ‘n wonderlike idee, maar miskien moet Mnr Musk eers vir ons ‘n oplossing vir ons kragprobleem gee, want waarmee gaan al hierdie wonderlike gadgets werk as ESKOM nie to light kom nie?

Wonder maar net

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.