Video: Emosionele oomblik vir Shatner ná ruimtereis

Elizabeth en William Shatner by die première van CBS se “Star Trek: Discovery” (19 September 2017) (Foto: Mark Ralston/AFP)

William Shatner, wat die rol van kapt. James T. Kirk in die oorspronklike Star Trek-reeks vertolk het, was Woensdag merkbaar aangedaan ná ʼn reis na die ruimte.

ʼn Kapsule van Blue Origin het veilig teruggesweef na die Wes-Texas-woestyn ná ʼn vinnig reis na die ruimte.

Dit was die tweede menslike vlug vir Jeff Bezos se maatskappy wat poog om homself as ʼn leier te vestig in die ruimtetoerisme-bedryf.

Shatner sou aanvanklik Dinsdag vertrek het, maar die reis is ʼn dag lank uitgestel weens weersomstandighede. Dit maak van die 90-jarige akteur die oudste ruimtevaarder.

Shatner het ná die reis in ʼn gesprek met Bezos vertel dat hy angstig, maar opgewonde was en dat dit iets is wat hy nog nooit beleef het nie. “Dis onbeskryflik. Dis nie net anders as wat mens gedink het [hoe dit gaan wees nie], maar dit gebeur so vinnig,” het hy gesê. “Mens sien die blou bedekking verby jou beweeg, en dan is dit skielik pikswart. Mens kyk ondertoe en mens sien die blou, Moeder Aarde, en as mens opkyk, is dit net pikdonker. Jy het vir my ʼn ongelooflike ervaring gegee. Ek is vol emosie.”

William Shatner saam met Glen de Vries, Chris Boshuizen en Audrey Powers ná hulle hul Blue Origin-opleiding afgehandel het. Hulle het hulself die “Snake Bites” genoem. (Foto: Glen de Vries/Twitter)

Shatner het bygevoeg dit was vir hom ʼn groot geskenk en ʼn onvergeetlike ervaring. “Dit was anders as enigiets wat hulle beskryf het.”

Jy kan nou jou eie ruimtereis deur Blue Origin hier bespreek, maar dit is nie duidelik hoeveel dit jou uit die sak gaan jaag nie. Indien jy belangstel kan jy ook ʼn e-pos stuur aan [email protected]. Die maatskappy het aanvanklik in 2018 beraam dat die koste tussen $200 000 en $300 000 (tussen R2,9 miljoen en R4,4 miljoen) sal beloop. Bezos het tydens ʼn perskonferensie gesê daar is ʼn groot aanvraag en dat Blue Origin reeds $100 miljoen in privaat verkope gehaal het. Daar is planne vir nog twee vlugte later vanjaar met siviele burgers.

Shatner, as Kirk, was bevelvoerder van die USS Enterprise wat op ʼn vyf jaar lange sending was “om vreemde nuwe wêrelde te ontdek, nuwe lewe en nuwe beskawings te soek, en dapper te reis waar geen ander mens vantevore gereis het nie”. Sy werklike reis na die ruimte was baie korter – slegs ʼn paar minute, in ʼn vlug wat die bemanning net verby die Kármán-lyn geneem het, sowat 100 km bó die Aarde.

Saam met Shatner was Audrey Powers, Blue Origin se adjunkpresident van sendings en vlugbedrywighede, Chris Boshuizen, voormalige Nasa-ingenieur en medestigter van Planet Labs, en Glen de Vries, medestigter van kliniese navorsingsplatform Medidata Solutions.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karina ·

Kaptein Kirk, nou was jy regtig in die ruimte. Dankie vir jou mooi beskrywende woorde oor jou ondervinding. Ek dink dit moes sowaar ‘n wonderlike ondervinding gewees het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.