[Video en foto’s] Minstens 50 dood, honderde beseer in China-ontploffings

Yue Yuewei/Xinhua via AP

Yue Yuewei/Xinhua via AP

Minstens 50 mense, onder wie 12 brandbestryders, is dood en honderde is beseer in reuse-ontploffings in Tianjin, China.

Twee ontploffings het Woensdagaand omstreeks 23:30 voorgekom en was só sterk dat dit as seismiese aktiwiteite geregistreer het by die nasionale aardbewingsentrum. Die ontploffingstoneel en byna alles in ʼn drie kilometer-radius is in die ontploffings verwoes. Sowat ʼn kilometer weg in twee residensiële gemeenskappe het uitgebrande motors die pad versper met glas wat die strate vol lê.

AP Photo/Ng Han Guan

AP Photo/Ng Han Guan

Meeste van die oorledenes en beseerdes is trekarbeiders wat in dié buurte gewoon het.

Volgens berigte is mense uit hul beddens gegooi weens die impak van die ontploffings, terwyl ander in hul nagklere uit hul huise gevlug het. Die pakhuis waar die ontploffings plaasgevind het behoort glo aan ʼn maatskappy wat gevaarlike chemikalieë berg, versprei en invoer.

Volgens berigte is minstens 701 mense in die hospitaal opgeneem met brandwonde of beenbreuke. Minstens 71 mense is ernstig beseer.

Die soektog gaan intussen voort na brandbestryders wat vermis geraak het terwyl hulle die brande wat ná die ontploffings uitgebreek het, probeer blus het. Brandbestryders het Donderdagmiddag nog gespook om die brande te blus.

https://youtu.be/no2p88fgd9s

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.