Video: Flintstone-huis mag bly – hof

Die Flintstone-huis bestaan uit pers en rooi koepels (Foto: Jon Justice, Twitter)

ʼn Kleurvolle huis in Hillsborough, Noord-Kalifornië, wat uit ʼn versameling reusagtige standbeelde van dinosourusse en die Flintstone-animasiekarakters bestaan, mag bly. Só het die hof onlangs beslis nadat die eienaar van dié huis, bekend as die Flintstone-huis, ʼn hofsaak teen haar bure gewen het. Die bure het die eienares in 2019 hof toe gesleep en aangevoer die huis is ʼn openbare steurnis en lok te veel mense na die buurt.

Florence Fang (88), ʼn sakevrou van Chinese afkoms, se huis bestaan uit pers en rooi koepels. In die tuin staan lewensgrootte standbeelde van die karakters van die legendariese animasiereeks The Flintstones, onder wie Fred en Wilma Flintstone, Barney en Betty Rubble. Daar is ook standbeelde van dinosourusse en sampioene.

Fang het in 2017 die huis teen ‘n bedrag van $2,8 miljoen gekoop (Foto: space cowboy donnie, Twitter)

Toe Fang in 2019 die dinosourus- en Flintstone-standbeelde en ʼn bord waarop staan “Yabba Dabba Doo” –  ʼn trefwoord van Fred Flintstone – in haar tuin opgerig het, het bure erg krapperig geraak.

Hulle het Fang gedwing om van die standbeelde ontslae te raak en gesê dat sy dit sonder die nodige permitte opgerig het. Die saak het in die hof geëindig en Fang het besluit om terug te baklei.

Danksy ʼn skikking wat in die hof bereik is, kan Fang se huis nou bly nes dit is.

NBC News berig volgens die skikking sal die Stad Hillsborough vir Fang $125,000 (sowat R1,8 miljoen) betaal om die koste te dek wat met die hofgeding verband hou. Na aanleiding van die skikking moet Fang ook aansoek doen vir die nodige permitte om voortaan enige opknappings aan haar huis te doen.

The Guardian berig die huis is in 1976 deur William Nicholson ontwerp en het vir etlike jare leeg gestaan voordat Fang die woning in 2017 teen ʼn bedrag van sowat $2,8 miljoen (sowat R42 miljoen) gekoop het. Volgens CNN was dit die fantasiehuis waarvan sy van kleintyd af gedroom het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sylvia ·

Dit is pragtig, baie netjies en dit lyk gerieflik binne, die tuin is mooi en netjies – dit getuig van iemand wat baie selfversekerd is

Belinda ·

Dis die lelikste huis ooit… maar ja smaak verskil. Ek is bly die dame kon haar fantasie huis hou. Gelukkig lyk die huis beter binne!

Carina ·

Dit is stunning, ek is mal daaroor en sal verseker lekker daar kan bly. Ek sou wel die buite mure ‘n meer subtiele kleur verf, maar binne is pragtig en lyk lekker gesellig. Ek is bly sy het die hofsaak gewen en kan haar unieke huis behou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.